Vorige Artikels

Hoe om vriende te maak

Dis interessant, maar tog ook hartseer, om in my praktyk te luister hoe mense dit soms moeilik vind om vriendskappe te vorm en nuwe verhoudinge te begin. Mense het dikwels ‘n groot probleem met hierdie aspek en hoe mense alleen kan raak.

Met die einde van die jaar wat nou vinnig nader spoed, betree ons weer die feesgety wat dikwels ‘n mens se alleenwees en eensaamheid aksentueer. Soveel mense ervaar verlatenheid, want sosiale interaksie, behoefte erkenning en waardering, om by iemand wees wat vir jou omgee en liefhet, is ‘n normale menslike behoefte.

Ek bespreek kortliks enkele praktiese wenke vir die vestiging van nuwe verhoudinge:

1.       Wees beskikbaar. Jy gaan nie mense ontmoet en nuwe vriende maak wanneer jy wegkruip en jou woonstel of huis nie. Jy moet opstaan en wegkom voor die televisie en dinge daar buite gaan doen.

2.       Sluit aan by ‘n vereniging of klub, want so gaan jy mense ontmoet en inskakel. Dis ‘n lekker gemaklike manier om op ‘n meer iewat formele wyse nuwe vriende te maak.

3.       Jy kan egter ook vriende maak op enige ander plek. Die vrou in die boekwinkel het ‘n mooi handsak en jy komplimenteer haar en sê: “Maar dis nou ‘n pragtige sak, waar het jy dit gekoop?” Sy glimlag en sê vir jou dankie – dit was die aanknopingspunt. Dan sê jy iets waarmee julle saamstem – julle staan voor ‘n sekere afdeling in die boekwinkel: “Ek sien jy hou ook van reis – ek dink dit verbreed ‘n mens ‘n visie baie deur ander plekke in die wêreld te besoek.” Natuurlik gaan sy saamstem en siedaar, jy het ‘n kontak tussen jou en ‘n ander mens gemaak. Dis ‘n tegniek wat goeie verkoopsmanne toepas om dadelik met ‘n vreemdeling kontak te maak en ‘n verhouding te skep.

4.       Ontdek iets in iemand waarvan jy hou en bespreek dinge waaroor julle saamstem. So vorm jy ‘n nuwe vriendskap. Moenie dadelik in argumente en redenasies verval nie. Gaan oefen dit – begin gesels met ‘n vreemdeling – miskien ‘n tiener wat soos punk lyk met tatoes en ringe deur die neus, wange en tong. Vind iets waarvan jy hou in die tiener en vind ‘n gemeenskaplike iets waaroor julle saamstem en kyk wat gebeur.

5.       Wanneer jy vriende wil wen, leer om te gee. Ons wil so graag ontvang, maar dis eers wanneer jy gee dat jy die grootste vriende sal maak. Gee van jou tyd, energie en positiwiteit aan mense, probeer vir hulle iets beteken, doen iets spesiaals vir hulle en dan sal hulle jou vriende word. Deur te gee gaan jy veel meer terug ontvang.

6.       Moenie met ‘n negatiewe houding loop en kla oor alles nie. Mense vind makliker aanklank by iemand wat positief is, lekker lag en gesels en met ‘n optimistiese geaardheid die lewe aanpak.

7.       Leer om te kommunikeer – veral as jy ‘n introvert is. Dis soveel makliker en veiliger om in jou dop te kruip, maar dis eers wanneer jy uit jou gemaksone klim dat jy regtig nuwe mense ontmoet en vriende maak. Leer ontspan wanneer jy tussen vreemdelinge / ander mense is en gebruik ‘n geleentheid soos ‘n funksie om ‘n geselsie met ‘n vreemdeling aan te knoop. Soos die gesegde lui (as ek dit nou reg onthou) ‘n vreemdeling is maar net ‘n vriend wat jy nog nie ontmoet het nie.

Die vermoë om verhoudinge te vestig, om ‘n band tussen jou en ‘n ander persoon te vorm en te behou, is essensieël ook in jou beroep. Wanneer jy aandag aan hierdie vermoë gee - dit ontwikkel en verbeter – skep jy vir jouself geleentheid tot verdere groei as mens en open jy deure vir nuwe geleenthede.



Copyright © 2005 All rights reserved. Dr ST Potgieter
email: st@pitkos.co.za