Vorige Artikels

Wanneer jy met ‘n gebrek gekonfronteer word

Ek het die afgelope naweek die flim “The King’s Speech” gesien.

Dit is ‘n Britse prent wat deur Tom Hooper geredigeer en deur David Seidler geskryf is. Colin Frith speel die rol van Bertie, broer van die toekomstige koning van Engeland, wie, om sy hakkel te oorkom, by Lionel Logue (gespeel deur Geoffrey Rush), ‘n Australiese spraakterapeut, om hulp aanklop. Bertie het die idee gehaat om koning te word, nadat sy flambojante en ouer broer, wie koning Edward VIII vir ‘n kort rukkie was, afstand van die kroon gedoen het om met die geskeide Wallis Simpson te trou. Bertie besef egter dis sy plig, en word Koning George VI, op die drumpel van die Tweede Wêreld Oorlog. Hy gaan steeds voort om by Logue hulp te kry vir sy spraakprobleem. Koning George VI en Logue raak mettertyd vriende. Logue help die koning om ‘n radio-uitsending te doen aan die begin van die oorlog.

Die skrywer van The King’s Speech, Seidler, het as kind ook gehakkel en kon vertroosting vind in die feit dat Koning George VI sy spraakprobleem oorwin het.

The King’s Speech het vier Oscars verower, waaronder vir die beste rolprent en beste akteur.

Met die kyk van die prent het die gedagte by my opgekom van hoe ‘n mens gebreke, swakhede, beperkinge en struikelblokke op jou lewenspad kry. Die meeste mense is nie hiervan gevrywaar nie. Meeste van ons het maar een of ander swakheid wat oorkom moet word of het die spreekwoordelike doring in die vlees. Hoe hanteer jy ‘n swakheid, ‘n gebrek of gestremdheid, ‘n onaanvaarbare karaktertrek? Ek deel met jou enkele gedagtes hieroor.

1.       Jy moet erken dat jy ‘n probleem het. Dit help nie om die gebrek te probeer ontken nie. Wees eerlik met jouself.

2.       Kry kundige advies en hulp rakende die gebrek. Soms weier mense om vir hulp te gaan. Maar soos Koning George VI sy trots in sy sak moes druk indien hy gehelp wou word, so moet ‘n mens maar jou trots sluk en hulp vra, al laat dit jou hoe ongemaklik.

3.       Indien daar van jou gevra word om in te val by ‘n remediërende program, moet jy jou volle samewerking gee. Dit help nie jy gaan kry hulp vir jou alkohol-probleem, maar eintlik hou jy aan om skelm te drink nie. Jy benadeel net jouself.

4.       Baie gebreke kan oorkom word met harde werk en deursettingsvermoë. By sommige gebreke moet jy die nodige aanpassings doen.

5.       Die ondersteuning van familie en vriende is nodig. Maak gebruik daarvan.

6.       Maak ‘n bestekopname van jou gebrek, neem ‘n wilsbesluit dat jy iets daaraan gaan doen, bepaal jou doelwit, en pak dit met mening aan. Met ‘n halfhartige poging gaan jy nie ver kom nie.

7.       Bid vir genade en krag van die Here om jou hierin te help. 


Copyright © 2005 All rights reserved. Dr ST Potgieter
email: st@pitkos.co.za