Vorige Artikels

Die Psigopaat – Deel 3

In die vorige twee artikels het ons na die kenmerke van ‘n psigopaat gekyk.

Nie alle psigopate bots egter met die gereg of is geweldadige kriminele nie. Daar is psigopate wat tussen ons woon en werk. Maar dit beteken nie die “gesosialiseerde” psigopaat veroorsaak nie probleme en ‘n laat pad van verwoesting agter nie.

Dink maar in ‘n werkplek waar die eienaar of baas humeurig en op ‘n boelie-manier mense manipuleer, dreig en belieg om sy doelwitte te bereik sonder om daaroor skuldig te voel. Hy handel gewetenloos in transaksies en het ‘n houding van meerderwaardigheid en onaantasbaarheid. Hy gebruik (misbruik) mense tot sy eie voordeel..

Daar is ook die gladdemond en sjarmante psigopaat wat vinnige opgang in die korporatiewe werkplek maak. Hy hou van die polsende dinamika van ‘n amper chaotiese werksomgewing waar vinnige besluite belangrik is. Hy gebruik kwesbare vroue vir seks en geld, maar is oppervlakkig en kortstondig in sy verhoudings. Alles draai net om sy eie beeld en behoeftes. Sy manipulasie kan verwar word met leierskap. Die vermoë om mense sover te kry om jou te volg is leierskap, maar dis psigopatiese trekke wanneer jy mense daartoe manipuleer met charisma en leuens.

Nog ‘n voorbeeld is die jong vrou wat haar middeljarige ouers verslae, bekommerd en radeloos laat. Sy drink en gebruik dwelms, raak deurmekaar met allerhande ongure karakters, gee nie om vir haar kinders en vestig geen goeie langtermyn verhoudinge nie. Sy misbruik haar familie om geld te kry, toon geen skaamte daaroor nie, en blameer ander vir haar situasie.

Het jy die hartseer van ‘n meisie gesien wat uitgaan met ‘n ou wat haar misbruik? Hy mishandel haar fisies en emosioneel; doen roekelose impulsiewe dinge. Hy manipuleer die meisie, sodat sy inval by wat hy wil doen, sonder dat hy werklik omgee vir haar siening en behoeftes. Hy kom nie sy beloftes na nie, maar pak tog die skuld op haar.

Die aanwesigheid van sommige genoemde kenmerke maak nie iemand noodwendig ‘n psigopaat nie; laat die diagnose vir psigopatie in die hande van professionele kundiges. Om egter vroegtydig kennis (en waarskuwing) te neem wanneer iemand oor trekke van ‘n psigopaat beskik, kan jou eventueel baie verdriet, skade en ellende in jou persoonlike en finansiële lewe, sowel as werksomgewing spaar.


Copyright © 2005 All rights reserved. Dr ST Potgieter
email: st@pitkos.co.za