Vorige Artikels

Glimlag en maak ‘n verskil

Die wêreld is ‘n doodernstige plek. Die koerante en televisieskerms basiun elke dag die moord en roof, die ellende en grusaamheid van gebeure in ons land uit. Mense gaan gebukkend onder moeilike omstandighede, daar is hartseer en spanning in ons lewens en gesinne.

Maar jy kan ‘n verskil maak. Met humor en met ‘n glimlag.

Ek het eenkeer gelees van ‘n jong man wat nie meer wou lewe nie. Hy het in sy motor geklim en gery na ‘n plek waar hy selfmoord wou pleeg. Op pad na die plek moes hy by ‘n verkeerslig stilhou. ‘n Meisie hou langs hom stil en toe hy in haar rigting kyk, glimlag sy vir hom. Skielik sien hy dat die lewe nie regtig so sleg kan wees nie. Kyk, ‘n mooi meisie het moeite gedoen om vir hom te glimlag. Hy kyk om hom rond, sien die blou lug en die son wat helder skyn, die groen bome met bloeisels langs die pad, die blomverkoper wat vrolik sy ware van die hand sit. En toe besef hy die lewe is steeds die moeite werd ondanks die probleme waarmee hy worstel.

Glimlag vir iemand en red ‘n lewe.

Ek het al so misrabel en ellendig gevoel dat ek skoon mislik was. Dan het iemand gekom met ‘n stukkie humor en met ‘n positiewe lag my dag opgebeur.

Die wêreld is ‘n doodernstige plek. Dis waar. Maar daar is nog altyd plek vir humor. Want humor is teken van lewe en kreatiwiteit. Humor verminder onverdraagsaamheid tussen mense. Gespanne situasies word ontlont deur humor.

Hanteer jy alles egter met ‘n swaarmoedigheid, gekla en stuurse uitdrukking moet jy verwag dis wat jy op die lang duur gaan terug ontvang. Dis soos die lewe werk – dit wat jy gee, kry jy weer terug. Jy maai wat jy saai.

Benader dus mense met ‘n blye gemoed en kyk of jy ‘n stukkie lag en blydskap in hul lewe en dag kan sit. Wanneer jy dit doen, gaan jy soveel meer terug ontvang.

Gebruik humor en jou glimlag om ‘n brug te bou tussen jou en jou medemens. Jy kan ‘n groot verskil maak in ander se lewe. Dit kos niks om te glimlag nie – doen dit!! Jy gaan met rente veel terug ontvang.

Wanneer jy iemand anders se dag beter maak deur jou glimlag en humor gebeur daar iets. En daardie ietsie wat gebeur is ‘n kleine wonderwerk in jou hart.

Probeer dit – dit werk!


Copyright © 2005 All rights reserved. Dr ST Potgieter
email: st@pitkos.co.za