Vorige Artikels

Hoe maak jy dat mense van jou hou

Ons wil almal baie graag hê dat mense van ons moet hou. Maar hoe doen ons dit, hoe kry ons dit reg?

Ek bespreek so ‘n paar idees en gedagtes hieromtrent aan die hand van Dale Carnegie se boek Hoe om Vriende te wen en Mense te beïnvloed. In my praktyk, waar ek baie mense konsulteer, het ek gesien en waargeneem wat dit is wat maak dat mense van jou hou of nie, en ek sluit ‘n paar persoonlike waarnemings en wenke in. Dan het my skoonma my nog altyd daarop gewys wat ek kan doen, sodat sy van my sal hou – ek grap sommer, my skoonmoeder is baie lief vir my (en ek vir haar.) Die res van die wenke het ek uit my duim gesuig:

·          Ons moet leer om nie so maklik te oordeel nie. Probeer verstaan waarom mense doen wat hulle doen, probeer begryp wat hulle situasie en omstandighede is – wat hulle motief is. Moenie kritiseer en oordeel nie.

·          Ontwikkel ‘n egte belangstelling in mense.

·          Glimlag wanneer jy mense ontmoet. Glimlag in die teenwoordigheid van mense. Glimlag wanneer jy oor die telefoon praat. Nors en stuurse mense skrik ander af. Wanneer jy wil hê dat mense van jou hou – glimlag!

·          Wees vriendelik.

·          Onthou mense se name. ‘n Mens se naam is vir hom of haar baie belangrik. Mense is gesteld daarop hoedat jy hul naam uitspreek of dat jy dit reg skryf. Vir mense verteenwoordig hul naam wie hul is.

·          Mense hou daarvan om oor hulself te praat. Vra mense uit en moedig hulle aan om te praat. Word ‘n goeie luisteraar en mense sal van jou hou.

·          Praat oor wat die ander persoon interesseer. Dit werk soos ‘n bom. Mense praat graag oor dit waarin hulle belangstel, oor hul werk, oor hulle mening oor aktuele sake, oor dinge wat hulle van hou om te doen. Jy raak gou vir ander vervelig wanneer jy net oor jouself praat en jou eie belangstellings vooropstel. Verbeel jou jy is ‘n TV-aanbieder van jou eie “talk-show” en vra uit en geniet jou gas se vertellings oor sy of haar se doen en late.

·          Laat die ander persoon belangrik voel. Laat die persoon met wie jy praat voel dat hy of sy die belangrikste persoon op planeet aarde is, en bedoel dit opreg.

·          Toon respek vir ‘n ander se mening. Vermy om vir mense te sê dat hulle verkeerd is. Afbrekende kritiek en om jou eie beuel te blaas, maak jou verseker nie meer gewild nie.

·          Vermy argumente. Die beste manier om ‘n argument te vermy is om dit te vermy. In sekere sake is ‘n konfrontasie nodig – doen dit so gou as wat dit nodig is en kry dit op ‘n ordentlike manier agter die rug. Maar vermy onnodige twis en geredekawel wat net die humeure opjaag en niks verder bereik nie

·           wanneer jy verkeerd is – doen dit dadelik. Bied jou opregte verskoning aan wanneer jy iets verkeerd gesê of gedoen het. Jou apologie gaan maak dat jy meer vriende wen.

·          Sien humor in ‘n saak. Mense hou van mense wat humor kan toon, wat maklik kan lag en met wie dit gemaklik is om om te gaan. Mense met ‘n nors en stuurse uitdrukking en bitterbek, moenie verwag om oorval te word van mense wat van jou gaan hou nie.

·      Wees positief en ‘n optimis. Ek sê gewoonlik vir mense om weg te hardloop van negatiewe mense, want hulle parasiteer op jou energie en lewenslus. Morbiede mense wat net die swartkant van alles sien en voortdurend daaroor kla, skrik my totaal af. Positiewe mense, optimisitese mense trek ander aan. Jy wil mos graag vriende maak en mense nader aan jou trek – wees ‘n blymoedige en positiewe mens met borrelende lewenslus.

·          Kry innerlike vrede en rustigheid in jou gemoed, want dit wat binne ‘n mens is, straal uit na buite toe. Die vrede en rustigheid wat jy uitstraal, maak dat mense graag in jou teenwoordigheid sal wil wees.

·          Wees lief vir mense.

·          Leef goeie maniere teenoor ander uit en wees bedagsaam.

The most important single ingredient in the formula of success is knowing how to get along with other people.

- Theodore Roosevelt -

John Kehoe (in Money Success & You) sê dat ‘n studie getoon het dat die volgende tien kwaliteite die meeste geadmireer word:

1.       Sin vir humor

2.       Opregtheid

3.       Eerlikheid

4.       Oopheid en ontvanklikheid

5.       Positiewe houding

6.       Medelye en empatie

7.       Geduld

8.       Goeie luister vermoë

9.       Selfvertroue

10.Goedgemanierdheid

Evalueer jou aan die hand van bostaande kwaliteite en eienskappe. Of nog beter, laat iemand wat jou ken en wie met jou eerlik sal wees, jou evalueer en terugvoering gee. Werk dan doelgerig om jouself te verbeter in die areas waar jy dit nodig het.

Hier is ‘n goeie stukkie wysheid:

The next time you face a customer who has every right to be upset, say something like this: ‘I don’t blame you for feeling as you do. If I were you, I’d feel exactly the same way. What would you like for me to do?’ These are magical, healing words, and you’ll be surprised at how reasonable people become when they believe you are on there side. If you are angry, why not try this. Write a letter. Pour out all of your feelings, describe your anger and disappointment. Don’t hold anything back. Then put the letter in a drawer. After two days, take it out and read it. Do you still want to send it? I’ve found that anger and pie crusts soften after two days.
-          H. Jackson Brown, Jr -

Daar is mense wat sal sê dat hulle nie instaat is om te verander nie. Maar natuurlik kan jy verander – jy kan baie dinge verander. Geen rede waarom jy nie sekere kwaliteite en eienskappe kan verbeter nie. Jy moet net die wil en motivering daartoe hê. Programmeer jou brein met positiewe boodskappe soos “ek kan dit doen,” of “wanneer ek iemand ontmoet gaan ek glimlag en sy naam onthou,” of “ek gaan my regtig instel om te luister wat iemand sê en om presies te verstaan hoekom dit haar standpunt is.”

Wie ander mense bly wil maak, moet vreugde in homself hê.
Wie die wêreld wil verwarm, moet vuur in homself dra.
Wie ander mense wil help, moet sagte hande hê, sodat hy nie seermaak nie.
Wie vrede wil bring, moet eers in sy eie hart vrede gevind het.

  - Phil Bosmans -

Beteken dit nou dat ek nooit my standpunt mag stel nie, dat ek nou sommer elke Jan Rap se vloerlap is en net daar is om almal te plesier. Nee, baie beslis nie. Ek moet steeds die egte, outentieke EK bly en wees – daar is egter soveel natuurlike en normale menslike response wat ek kan gebruik om goeie menseverhoudinge te handhaaf al is dit in ‘n konfliksituasie. Response teenoor ander mense wat sal maak dat hulle meer van my hou. Ek verloor myself nie in die proses nie, maar verbeter inderwaardheid my karakter en geaardheid.

Copyright © 2005 All rights reserved. Dr ST Potgieter
email: st@pitkos.co.za