Vorige Artikels

Riglyne vir ‘n positiewe vakansie

Dit is weer Desember. Vakansietyd. Maar vakansietyd is ook ‘n tyd wat jy nuttig kan gebruik om as mens te groei en die nuwe jaar met energie, dinamika en ‘n lus vir die lewe te begin. Sommige mense hou vakansie, doen so min as moontlik, raak gou verveeld, eet en drink oormatig.

 1.      Oefening: Kom ons begin by die gedagte wat meeste vakansiegangers van wegskram, naamlik oefening. Gedurende die jaar raak ‘n mens dikwels so oorlaai met werk, vasgevang in die rot-resies en propvol program sodat jy (soos baie mense) nie prioritiseer om gereeld te oefen nie. Maar ‘n vakansie is ‘n wonderlike tyd om met oefening te begin. Maak ‘n punt daarvan om hierdie vakansie liggaamlik aktief te word en ‘n gesonde oefenprogram te volg. Dit hoef nie in te druis met jou ander vakansie-aktiwiteite nie. Inteendeel, wanneer jy oefen en fiks en lewenslustig raak, geniet jy die ander aspekte van jou vakansie veel meer. Jou liggaam benodig vars lug en sonlig net soos die ander dinge soos kos en water. Kom uit en begin oefen. En die groot bonus sal wees dat jy gesond en energiek voel wanneer die nuwe jaar met sy werksaamhede aanbreek.

 2.      Eet gesond: Die oorlading van feestafels kan veroorsaak dat ‘n mens te veel eet en drink in die vakansietyd. Eet normaal, eet gesond, eet gebalanseerd, vermy oormatige alkoholgebruik. Moenie jou instel op kos nie, maar fokus op ander aktiwiteite soos gesprekke met vriende, die besoek aan besienswaardighede, ‘n goeie storieboek of fliek, ontdekking van die omgewing en so meer.

 3.      Groei as mens: In aansluiting by die vorige punt is dit belangrik om in die vakansie jou menswees te vertroetel en geleentheid vir groei te gee. Sommige mense skakel totaal af gedurende die vakansie, gedra hulle soos ‘n moroon, lê heeldag vir weke en doen niks. Nee, rus wanneer jy moet, maar staan op vir jouself en gryp die geleentheid van die vakansie aan. Doen iets positiefs. Lees daardie boek wat jy nog altyd wou. Spring die valskermsprong wat jy die laaste paar jaar dreig om te doen. Gesels met jou kind en voer ‘n indiepte gesprek met hom / haar en leer jou kind beter ken en verstaan. Toets en eksperimenteer die resepte waarvoor jy in die gewone sleur van die jaar nie voor tyd het nie. Drink koue wit wyn en eet pizza op die strand met die son wat ondergaan. Doen dinge, gesels met mense, besoek plekke, leef voluit. Jy moet dit doen, sodat wanneer die nuwe jaar aanbreek jy met woema en geesdrif voluit kan wegspring.

 4.      Versterk die band met jou geliefdes: Gedurende die jaar skeep ons so dikwels ons geliefdes af. Maak hierdie vakansie ‘n punt daarvan om weer die bande met jou geliefdes te herstel en te versterk. Maak tyd om in julle verhouding ‘n verdieping en groei te ervaar. Vergewe waar nodig en genees die seerkry plekkies. Werk aan die humor, die lag, die pret, die diepte, die liefde – die vakansie is ‘n ideale tyd en geleentheid hiervoor. In ‘n lekker rustige en ontspanne atmosfeer is dit soveel makliker as in die gejaag en harwar van die jaar. Wanneer jy gedurende die vakansie aan jou verhoudinge aandag gee, en jou ondersteuningsnetwerk weer verstewig, is jy veel meer gereed vir die nuwe jaar se uitdagings wat voorlê.

 5.      Doen beplanning vir die nuwe jaar: Vakansietyd is ‘n fantastiese tyd om beplanning te doen vir die nuwe jaar in jou lewe. Gedurende die besige jaar is dit soms moeilik om noukeurige aandag aan jou doelwitte te gee. Die rustigheid van die vakansie, ‘n verandering van omgewing, ‘n wegbreek van die normale roetine bied vir jou tyd en ruimte om weer oor jou lewe te dink en te peins. Dit bied jou geleentheid om te besin oor jou drome, doelwitte en waarheen jy op pad is met jou lewe. Vakansietyd is tyd vir perspektief op jou lewe. Vakansietyd is tyd vir voorbereiding vir die nuwe jaar.

 6.      Propvol pret: Kyk, vakansietyd is ‘n tyd vir pret en plesier. Jy het hard gewerk gedurende die jaar en jy is moeg. Daarom geniet jou vakansie voluit. Beplan avontuurlike dinge, rus lekker uit, laat die romanse blom, beraam planne vir jolyt tye saam met familie en vriende. Moenie ‘n suurgesig vakansie hê nie – jy het hierdie een vakansie – maak dit ‘n vreugdevolle heerlike tyd. Bou herinneringe op vir die moeilike tye wat voorlê. Wys vir mense jy gee om, toon jou liefde, wees geduldig en sagmoedig, deel jou vreugde. Dis jou keuse vir ‘n  vakansie met wavragte vol pret en plesier en omgee.

 7.      Versterk jou geloof: Alte dikwels skeep ons ons verhouding met die Here af gedurende die bedrywige jaar. Nou is dit tyd om aan jou verhouding met die Here te werk. Spandeer hierdie vakansietyd met God se woord en maak tyd vir gebed. Jou verhouding met die Here is wat vir jou krag en hoop sal gee vir die nuwe jaar met al sy moeilikheid, swaarkry en probleme.

 Ek wens jou toe ‘n wonderlike vakansie, rus lekker uit, maar gebruik ook die tyd positief sodat jy die nuwe jaar met energie en lewenslus kan aanpak.

Copyright © 2005 All rights reserved. Dr ST Potgieter
email: st@pitkos.co.za