Vorige Artikels

 Perspektief op jou lewe en probleme

Ons almal ondervind een of ander tyd probleme. En meeste van ons beleef maar dieselfde soort probleme. Dit is egter hoe ons hierdie situasies hanteer wat verskil van mens tot mens. Die perspektief waarmee jy na jou probleme kyk, is belangrik. En dit is nodig om dinge in hul relatiewe belangrikheid tot die groter prentjie te sien. Hoeveel mense hou hulle besig om met onbenullighede hulself te kwel en tyd te mors? Soveel mense trek dinge heeltemal uit proporsie uit en dit veroorsaak dikwels groot onmin in vriendskappe, families en ook in die huwelik.

Wat bedoel jy om ‘n gesonde perspektief op jou probleme te hê? Kom ek antwoord dit so. Dit is soos om ‘n wyehoek-lens op jou kamera te sit. Jy kry ‘n beter skoot van die landskap voor jou. Jy sien die probleem of insident in perspektief tot jou hele lewe. Het jy al gesien hoe moeilik mense in die verkeer kan raak oor ietsie klein. Dis asof hulle nie hul humeur kan beteuel nie. Ek het nou die ander dag weer iemand gesien wat ontplof in die restaurant net omdat hy nie dadelik deur die kelnerin bedien is nie. Wat is ‘n minuut nou ekstra in die lekker ervaring van ‘n uiteet? Of mense reis op vakansie en kry ‘n papwiel. Een ou sal uitklim en mor en skel: “Hoekom moes dit nou juis met my gebeur?” Die hele dag is sommer vir almal in die motor versuur. Dikmond en ongelukkig reis hulle verder. Iemand anders – in dieselfde situasie - klim uit, rek bene, ruik die karoobossies, en is dankbaar dat hulle nie ‘n ongeluk gehad het nie. Hulle gesels lekker en drink koffie en ruil die wiel om. Reis verder in vrede en vreugde. Jy het die keuse in watter konteks jy ‘n probleem gaan plaas.

Dit is juis hierdie perspektief op sake wat dikwels probleme tussen ouers en hul volwasse kinders kan veroorsaak. Jou mening hieroor. Dit is inderdaad so. ‘n Ouerpaar het twee getroude kinders. Die een dogter en haar man is verantwoordelik. Hulle het ‘n standvastige werk en dit gaan goed in die huwelik. Die ouers besluit om vir hulle kinders R850’000 te skenk as ‘n vroeër erfporsie. Die kinders besluit om ‘n eiendom daarmee te koop as ‘n belegging. Die ouers is gelukkig met die besluit van hul kind en skoonseun en plaas die geld oor.

Die ander dogter en haar man val rond. Die man het nou reeds twee keer sy werk verloor. Hy het reeds twee keer ‘n eie besigheid begin, maar moes na ‘n paar maande toemaak. Die rede wat hy aanvoer is die swak ekonomie. Verder wil hy nou weer van werk verander, omrede hy en die bestuurder nie oor die weg kan kom nie. Die dogter soek nou al ‘n paar jaar na werk, maar sy kry nie die soort werk wat sy eintlik wil doen nie, of die salaris is te min. Nou wil hulle die beloofde geld van hul ouers gebruik om na Spanjé te verhuis en ‘n kafee daar te gaan oopmaak. Daar is vriende in Spanjé wat hulle glo sal help.

Die ouers besluit toe om nie die geld aan die tweede dogter en haar man te skenk nie. Die ouers voel dat die risiko te hoog is. Hulle stig ‘n trust en koop ‘n meenthuis in die trust. Die dogter en skoonseun verkry inkomste uit die verhuring van die eiendom, maar omrede dit in ‘n trust is, kan hulle dit nie nou verkoop nie.

Die perspektief van die ouers, en hul ervaring deur die jare, het rooi ligte vir hul laat flikker oor die tweede dogter en haar man se planne. Die ouers voel dat geld waarvoor hulself deur die jare baie hard voor gewerk het, nie sommer net so vermors kan word nie. Die dogter en skoonseun is briesend vir die ouers, omrede hulle nie die kontant van R850,000 gekry het nie. Hier het ons ‘n verskil in perspektief op ‘n situasie. Die feit van hierdie geval is wel dat ‘n erflating of geskenk nie ‘n reg is nie. Dit is ‘n voorreg en die dogter en skoonseun behoort dit dan ook so in te sien. Die dogter en skoonseun kry wel hul R850,000 maar nie in die vorm van kontant nie.

Kommunikasie rondom sulke sake is belangrik tussen ouers en hul volwasse kinders. Gesprekvoering kan onduidelikhede opklaar en motiewe verduidelik.

Wat bewolk of verduister ‘n mens se perspektief op die lewe? Daar is sommer ‘n klomp goed waaraan ek nou vinnig kan dink. Hier is ‘n paar dinge:

·          Mense wat te vinnig en gejaagd lewe. Hulle ken nie rustigheid en vrede nie.

·          Mense wat verbitterd en vol haat is. Dit maak jou perspektief op die lewe verwronge.

·          Mense wat alles wil reg baklei.

·          Mense wat dink hulle is altyd reg,

·          Mense met ‘n egosentriese uitkyk op die lewe. Alles draai net om myself.

·          Mense met angstigheid en bekommernis in hul gemoed.

Hoe kan ek ‘n gebalanseerde uitkyk op die lewe verkry? Hieroor kan ‘n mens seker baie skryf, maar ek dink van die volgende vyf punte sal vir jou help:

·          Dink ‘n bietjie hoe pas jy in die groter prentjie in. Vra vir jouself ‘n paar vrae. Hoekom is ek hier op planeet Aarde? Wat is die doel van my lewe? Wat blokkeer my om my potensiaal voluit te kan uitleef?

·          Sien die wonderwerke rondom jou raak. Jy kan asemhaal, lag, geself, opstaan, tandeborsel. Jy kan voëltjies in die bome hoor, jy sien hoe groei die rose, en hoe dryf die wolke in die blou lug,  jy ervaar hoe roteer die aarde om sy eie as, en hoe is daar afwisselende dag en nag, en jy sien hoe verander die seisoene, en snags sien jy die miljoene sterre die swart hemelwand. Wow – hoe bevoorreg is jy nie om te leef midde in ‘n heelal en wêreld van wonderwerke nie.

·          Raak betrokke by mense wat deur ‘n moeilike tyd in hul lewe gaan. Besoek byvoorbeeld pasiënte in die kanker-afdeling van ‘n hospitaal. Gaan bied jou dienste aan by ‘n tehuis vir gestremde volwassenes.

·          Groei in jou religeuse uitkyk op die lewe. Leer meer van die Woord van God en skakel in op die Here deur gebed. Belangrik dat jy die elke dag doen.

·          Omring jouself met positiewe mense met ‘n verskeidenheid van persoonlikhede, beroepe, belangstellings, perspektiewe. Verbreed die lens van jou lewe.

Hoe maak ek as dinge net te besig raak en handuit ruk? Wanneer ek deel is van die rotresies van die lewe? In die eerste plek is dit belangrik om te onthou dat jy ‘n keuse het. Hier is drie aspekte belangrik:

·          Trek die grense. Moenie meer op jou skouers laai as wat jy kan nie. Dit is nie nodig om take te aanvaar waarvoor jy nie tyd het nie. Sê duidelik dat jy nie nou die tyd daarvoor het nie. Jy hoef ook nie uitnodigings na funksies te aanvaar as jy nie tyd of lus het daarvoor nie.

·          Leer om NEE te sê. Daar is krag in die woord NEE.

·          Sny die rompslomp uit jou lewe. Kry die dinge weg wat jou hinder en jou energie tap.

Maar is die lewe nie te ernstig nie? Moet ons nie lag en meer humor in die lewe sien nie? Ja, absoluut, dis so waar. Ons neem dinge en mense soms heeltemal te ernstig op. Vind die humor in elke dag se situasie. Lag neem die spanning tussen mense weg. Humor bou brûe tussen mense. Lag maak jou optimisties. Lag verdryf die donker wolke wat jou denke besoekel.

Is dit soms nodig om uit jou omgewing weg te kom om perspektief te kry? Ja, inderdaad is dit goed om gereeld ‘n verandering te maak. ‘n Mens kan een of twee keer in ‘n jaar weg van jou huis te kry, net om weer sake uit ‘n ander perspektief te dien. ‘n Verandering van omgewing stimuleer weer jou denke en kreatiwiteit. Gesels maar met iemand wat die eerste keer oorsee was en jy sal agterkom hoe opgewonde so ‘n persoon is oor die nuwe perspektiewe wat hy uit hierdie ervaring gekry het. Verandering van omgewing en situasie is deel van die groeiproses van ‘n mens. Net om twee dinge te noem wat ‘n groot indruk op my jong lewe gehad het en gehelp het om my perspektiewe in die lewe te vorm, was my weermagdae as infanteriesoldaat en my studentjare. Maar ‘n mens moet ook in jou elke dag se doen en late ‘n bietjie van omgewing te verander. ‘n Uur op die strand na werk kan wondere doen om net weer jou batterye te herlaai. Of gaan stap ‘n ent iewers in die natuur of in die buurt.

Pitkos gedagte vir die week. Wanneer ons so na ons probleme en omstandighede kyk, voel dit dikwels dat ons in ‘n muur vaskyk. Sien ons nie uitkoms nie. Jou visie en jou perspektief is beperk. Die nag is egter nooit so donker dat jy nie iewers ‘n ster sien flikker nie. Selfs in die droogste woestyn is daar ‘n oase. Ja, soms voel ons bang en alleen, sonder hoop. Sonder toekoms. Soms voel jy soos ‘n verlate klein eiland in die wye oseaan. En voel jy alles is buite beheer. Maar onthou, soos die aarde roteer om sy as, en soos die nag verander in sonskyn en ‘n nuwe dag, so kom daar weer hoop en antwoorde in moeilikste tye van jou lewe. Behou die hoop, behou die geloof, behou die perspektief. Wat ookal gebeur, moenie moed verloor nie.

Copyright © 2005 All rights reserved. Dr ST Potgieter
email: st@pitkos.co.za