Vorige Artikels

 Sosiale netwerke in die soektog na ‘n werk

In vandag se artikel handel ek oor hoe jy in jou werksoek van die sosiale netwerke gebruik kan maak. Dit gee idees vir jong mense, maar ook vir ouer persoon wat werk soek. In hierdie tye waarin ons leef met die hoë werkloosheid behoort ‘n mens nie net die gewone kanale te gebruik nie. Jy moet inderdaad wyer kyk en ook van die sosiale netwerke gebruik maak. Van hierdie wenke en riglyne wat ek hier noem, het ek deurgegee aan Marlene Malan, joernalis, wat vir die Talent-adeling van Die Burger ‘n artikel hieroor geskryf het. Ek deel graag met jou my siening oor die sosiale netwerke en die soektog na werk:

·          Die dae is verby dat wanneer jy werksoek jy net op advertensies in die koerant reageer of jou CV by ‘n personeelagentskap inhandig. Sosiale netwerke gaan ‘n al groter rol speel.

·          Ek voorsien dat werkgewers van meer en meer van sosiale netwerke gebruik gaan maak om poste te adverteer.  Veral om twee redes: dit is goedkoop / gratis advertensie van ‘n vakture en tweedens is dit vinnig om die vakture geplaas te kry en response daarop te kry.

·          Skakel in by die groot netwerke soos Linked, Facebook, Twitter, Google+ en My Space. Elkeen van hierdie sosiale webwerwe het sy eie uniek manier hoe dit funksioneer en jy moet seker maak dat jy dit verstaan en kan gebruik.

·          Linked is ‘n professionle netwerk webwerf in die beroepswêreld wat uitstekend is om ‘n netwerk op te bou en jou CV bloot te stel. Jy kan jouself deur Linked promoveer vir ‘n betrekking.

·          Tik by Facebook se soekenjin in: Job Search.  En begin dan aktief deelneem.

·          Maak seker dat jy nie op enige profiel, soos op Facebook, dinge skryf wat jou diskwalifiseer of in ‘n negatiewe lig stel vir ‘n aansoek om ‘n betrekking nie. Potensiële werkgewers mag dalk jou naam opsoek en data en persoonlike inligting van jou op die manier bekom. Onthou dit mag jou persoonlike en private inligting wees vir jou vriende, maar wanneer dit op die sosiale netwerke tentoongestel word, kan almal dit lees – ook ‘n potensiële werkgewer.

·          Moenie foto’s op Facebook sit wat jou in ‘n slegte lig plaas nie, byvoorbeeld waar jy dronk op ‘n partytjie is nie. Dit mag pret wees om dit met jou vriende te deel, maar as ‘n potensiële werkgewer dit sien, kan dit jou profiel as ‘n toekomstige werknemer benadeel. Indien jy dit wil plaas, gebruik die opsie om dit privaat te hou dat net jou vriende dit sien.

·          Moenie van jouself ‘n idioot op ‘n sosiale netwerk maak nie. Dit kan jou tot nadeel strek. Moenie werkgewers beskinder of slegsê nie, dit mag dalk net gebeur dat hulle dit lees.

·          Oorweeg ‘n persoonlike webwerf of blog waar jy jou kwalifikasies en ervaring, jou CV en jou vaardighede bemark.

·          Stel dit op Facebook dat jy werk soek en verduidelik waarvoor jy bekwaam is. Jou vriende kan jou help in jou soektog of dalk iemand ken wat jou benodig. Hoe groter vriendekring jy op Facebook het, hoe meer blootstelling kry jy en kan jy jou aan ‘n groter gehoor bemark.

·          Wanneer jy jou inligting en CV op die sosiale netwerke plaas, sorg dat dit goed versorg is. Jy moenie oorhaastig iets skryf nie. Jou taalgebruik moet goed wees en ‘n uitstekende indruk op potensiële werkgewers maak.

·          Soveel besighede gebruik vandag die sosiale netwerke soos Facebook en Twitter. Teken aan op ‘n besigheid wat jy sien as ‘n potensiële werkgewer en bly op hoogtemet wat hulle doen. Moenie ‘n oorlas van jouself maak nie, neem deel positief deel waar nodig, maar gebruik dit om op hoogte van die firma te kom. Kliek byvoorbeeld “Like” op Facebook by die firma en wanneer hulle navorsing doen oor jou, mag dit tot jou voordeel wees.

·          Maak seker dat wat jy op enige netwerk sê positief oorkom. Jy hoef nie sjuutjies te trap en slegs ‘n bleeksiel-profiel toon nie. Stel jou standpunte, toon karakter, maar dra ook sorg dat jy dit in goeie smaak is. Die potensiële werkgewer mag jou naam google in sy navorsing oor jou. Informasie op die internet raak al meer ‘n aanvullende dokument tot jouformele CV.

·          Wanneer jy die sosiale netwerke wil gebruik in jou werksoek, moet jy met hart en siel inklim. Dit is harde werk. Sorg dat jou naam en CV en die tipe werk waarin jy belangstel, uitkom en versprei oor die sosiale netwerke. Gebruik alle netwerke tot jou beskikking. Laat die woord uitgaan en laat die sosiale netwerke toe om jou boodskap uit te dra.  Wees paraat, voortdurend besig, wees interaktief en neem deel.

·          Moenie sit en slaap nie. Wanneer jy die woord daar buite op die sosiale netwerke het en daar kom ‘n potensiële werksaanbod of ‘n onderhoud in, volg dadelik op en tref die reëlings.

·          Om ‘n aanstelling te kry in ‘n firma berus steeds heel dikwels op iemand wat jou naam noem in die firma of besigheid. Die sosiale netwerke is uitstekend om daardie kontak te maak met werknemers van die betrokke firma en jou naam daar genoem te kry. Die sosiale netwerke is ‘n magtige medium om kontakte op te bou.

·          Moenie net die sosiale netwerke staatmaak nie, gebruik steeds die konvensionele maniere ook. Dit vorm alles deel van die totale pakket om jouself te bemark.

·          Dra sorg dat jou virutele kuberhuis in orde is. 

Indien hierdie gedagtes vir enigiemand anders mag help, is jy welkom om hierdie nuusbrief aan te stuur.

Copyright © 2005 All rights reserved. Dr ST Potgieter
email: st@pitkos.co.za