|
Gesoek: jou kommentaar, siening en mening oor
bygelowe. Stuur dit na st@pitkos.co.za en
merk in subject line “Bygelowe”. Vertel vir ons van bygelowe wat aan jou bekend
is en ook jou ondervinding daarvan.
Hieronder
volg ‘n nuusbrief soos uitgestuur op 18 Oktober 2006. Die briewe en reaksie
volg direk onder na die nuusbrief.
Vrydag
die 13de
Ek
word gevra om ‘n praatjie te kom doen by ‘n hoërskool. Op Vrydag die 13de. Die
radioprogram Monitor van RSG vra my om
‘n radio-onderhoud te doen. Ook op Vrydag die 13de. En die onderwerp van die
radio-onderhoud: Vrydag die 13de.
Die
praatjie (per telefoon vanuit Johannesburg)
geskeduleer vir 07:50. Die praatjie in die skoolsaal geskeduleer vir 08:00. Ek
maak gebruik van my “time management skills” en reël dus met die hoof van die
skool persoonlik dat die omroeper van
Monitor my direk by die skool skakel en ek dadelik daarna my praatjie in die
saal kan doen. Vra hom ‘n stil kantoor. Geen probleem nie, verseker die meneer
my. Alles sal in orde wees. Ek praat en reël ook met die juffrou wat die
praatjie organiseer.
Vrydagoggend
is ek betyds by die skool. Juffrou lei my na die kantoor waar ek moet praat.
Telefoon is daar, die dames by die skakelbord is in kennis gestel dat RSG gaan
skakel. Alles reg en in plek. Ek is gereed om vrae te antwoord en insette te
lewer oor Vrydag die 13de en die sielkundige effek daarvan op die mens.
Die
telefoon lui – dis die omroeper van Monitor. Tel die sekondes af voor ons op
die lug gaan. Net toe ons begin praat, besluit die hoof van die skool hy wil
nóú op die interkom praat. En hier sit ek in hierdie klein kantoor, met die
hoof se stem wat bulder oor die interkom sodat ek nie die omroeper oor die
telefoon kan
hoor nie. Ek bedoel soos in feitlik glad nie. Die luidsprekerkassie sit hoog
teen die muur in die kantoor. Wat kan
ek doen, vasgevang in die kantoor en ons is lewendig op die lug? En intussen
klop ‘n ander onderwyseres om in die kantoor te kom. En maak die deur oop en
loer rond. Ek kan nie dink nie, ek kan nie die omroeper
hoor nie, want die hoof praat aanmekaar
hard en luid. Dit word ‘n NAGMERRIE in hoofletters!!
Ek het
al redelik baie onderhoude op radio gevoer met goeie sukses, maar hierdie
onderhoud is ‘n absolute fiasko – ek voel geweldig ontsteld oor die voorval!
Moet ek die fiasko blameer op Vrydag die 13de of is dit bloot onkunde of
onbevoegdheid van ‘n instansie wat nie bekend is aan die praktyk van ander
instellings buite ‘n skoolomgewing nie?
Die
juffrou kom vra groot verskoning. Vra selfs of die skool vir Monitor ‘n brief
moet skryf om te verduidelik en apologie aan te teken. Ek is platgeslaan maar
moet dadelik myself hergroepeer en my emosies onder beheer kry vir die praatjie
in die saal.
Tot
vandag toe het ek nie veel erg aan bygelowe gehad nie, maar is hierdie nie ‘n
bewys van die spook van Vrydag die 13de nie?
Sal ek
weer op ‘n Vrydag die 13de op die radio praat? Hoe moet ek hierdie slegte
gebeurtenis verwerk en hanteer?
Ek doen
die volgende:
· Ek sal my nare
ondervinding nie aan Vrydag die 13de toeskryf nie, maar eerder aan ander
faktore.
· Ek sal weer op die
radio of waar ookal praat op Vrydag die 13de. Net om die punt te staaf dat ons
nie uitgelewer is aan allerhande bygelowe nie.
· Ek sal nie vashaak
by hierdie teleurstelling en terugslag nie, maar steeds net my beste doen. Môre
skyn die son weer en die genade van die Here is immers genoeg vir my.
· Ek sal die humor
in die situasie probeer raaksien, want om te lag is goed vir jou gesondheid en
salf vir jou seer gemoed.
Dit
bring my by die punt waarom ons in ‘n moderne tyd nog so bygelowig is? Hoekom
is dit dat vele hotelle nie ‘n dertiende vloer het nie – daar moet blykbaar ‘n
lugleegte wees tussen die twaalfde en veertiende vloer. En kyk maar hoeveel
hysbakke het nie ‘n nommer 13 knoppie om te druk nie. Selfs sommige hospitale -
wat veronderstel is om ‘n rasionale wetenskaplike plek te wees – het nie ‘n
teater nr 13 nie.
Hoe het
die bygeloof van Vrydag die 13de onstaan? Wel, daar is nie sekerheid daaroor
nie. Blykbaar kom dit voor van baie lank gelede - daar word byvoorbeeld in die
Noorse mitologie ‘n fabel vertel van ‘n
maaltyd vir twaalf mense met ‘n dertiende persoon wat opdaag en die dodelike
gevolge daarvan.
Die
bekendste voorbeeld is egter die laaste maaltyd van Jesus voor sy kruisiging.
Tradisioneel word dit as ‘n Vrydag beskou, hoewel sekere skrywers meen dit was
‘n Woensdag. Dus dertien mense op ‘n Vrydag sit aan by ‘n maaltyd. En een van
hulle is Judas die verraaier. Dit is ook Judas wat eerste opstaan en uitstap.
En dit is ook Judas wat eerste dood is.
· Wat is
volgens jou ‘n bygeloof? Hoe ontstaan dit?
· Het jy
‘n bygeloof?
· Is
gelukbringers ‘n vorm van bygeloof ?
· Is daar
in die morderne tydsgewrig nog plek vir bygelowe?
· Hoekom
dink jy het mense bygelowe?
· Is daar
sielkundige redes vir ‘n bygeloof?
Ek hoor
graag jou kommentaar op hierdie vrae en enige ander ondervinding wat jy het met
betrekking tot bygelowe wil deel.
Kommentaar,
menings en reaksie van lesers
Dr.Potgieter
- ek kan my nogal die prentjie by die skool voorstel en jou ontsteltenis
verstaan – ek glo dat die orde by skole soggens maar versteur is, en dat die
insident blote toeval was , omdat die skoolhoof dalk nie die personeel ingelig
het nie , en toe self vergeet het!! Moes seker
eerder êrens ñ nota op gesit het sodat almal kan sien – ek werk vir die Dep.
Van Gesondheid.
Ek en my 2
susters verjaar al 3 op die dertiende – 13/2, 13/6 en 13/12 – vraag is
blote toeval of ongeluksvoëls??? Nee, wat ons steur ons glad nie hieraan nie,
en ons is geseënd met ñ God wat al sy genade daagliks op ons uitstort.
Elke
glo dat elke kultuur sy eie bygelofies het, wat nie skade sal doen indien jy
nie die magte groter as God daarin sien nie....... Praat gerus weer op RSG! - Sandra
Hi daar Dr. – ek
onthou toe ek nog ‘n kind was in ‘n klein weskus vrissersdorpie met die naam
“Laaiplek” waar ek groot geword het. Tussen die vissermanne was die woord
bygeloof nooit gebruik nie. Hulle het altyd vir daardie gebruik gesê jy is
“siaal” – ‘n woord wat ons in die stad glad nie hoor nie. Ek moet sê dat ek ook
aan bygelowe geglo het, tot een dag? Dit was die dag dat ek my hart vir Vader
gegee het. Van daardie dag is bygelowe vir my ‘n “foefie” wat glad geen sien
maak nie, maar my wel lekker laat lag vir die mense wat nog waarde daaraan het.
Groete – Johan ps. Ek geniet
jou skrywes terdieë.
Middag Dr - ek het die
verhaal van Vrydag die 13de baie geniet. Ek is ook by 'n skool en kan net dink hoe dit
moes wees. Bygelowig is ek egter nie! Groete - Gherda
Dankie weer eens vir 'n oulike
artikel oor Vrydag die 13de. Ek kan
my net indink wat 'n nagmerrie die hele gedoente oor die foon moes gewees
het. Ek's seker die skoolhoof voel nou nog sleg. Hy het net seker
nooit daaraan gedink dat die kantoor waarin jy besig was met jou onderhoud ook
mos 'n interkom het nie. Wat 'n aaklige ondervinding. Wys net dat
radiostasies maar liewer vooraf opnames moet maak. Maar dit bly ironies
dat dit alles op die 13de gebeur het.
Ek het al opgelet dat die 13
ge-"skip" word by bv. tafels in 'n restaurant ook. Hoe sê hulle
altyd dat wanneer 'n mens bang is vir iets gebeur dit soms, omdat 'n mens
verkeerde goed na jou aantrek met negatiewe gedagtes. Dus is dit dalk
dieselfde met die 13de. As 'n mens verwag dat dit 'n sleg dag met
"mishaps" sal wees, dan sal dit dalk gebeur. Ek dink maar net
nooit aan so iets nie. 'n Lekker dag vir jou en voorspoed met die
praktyk. Jy is die Kaap se Dr Phil. Groete - Wena
[ek weet nie of skoolhoof sleg voel nie, want hy het
my nooit geskakel of jammer gesê nie – ST.]
Ai, sommige mense darem. Die
man behoort so waar baie sleg te gevoel het. So verskil die mensdom
ne. Ek sou 'n brief wou skryf ek sou so sleg gevoel het as ek hy was. Dit
was natuurlik vir jou 'n groot verleentheid want jy't mos die reelings getref
(die venue ens...) Groete - Wena
Hallo ST -
dankie dat jy hierdie nare ondervinding met ons deel. Ons ervaar ook dikwels
hoe `n mens reëlings tot die uiterste toe tref en dan loop alles en nog wat
skeef. Dan voel jy soos `n wurm. En dan lyk dit mos soms of dinge vir ander net
glad loop. Jou bydrae laat my weer opnuut besef – ons weet nie nie van ander se
ervarings nie. Dankie vir die weeklikse pitkos. Dis kos vir my siel! Glo ek aan
die 13e? Gelukkig nie! - Elmari
Hallo ST - Vrydag die 13de. Jou hart moes in jou
keel klop toe daardie luidspreker druis in jou ore. Die ST wat altyd so
gemaklik en in beheer is en ook so voorkom, se mat was vir 'n oomblik onder sy
voete uit. Nie 'n aangename ondervinding nie! Gelukkig het jy nog
iets bygekry waarvoor jy kan
lag in jou oudag...
Ek wil graag antwoord op jou vrae:
Die ontstaan van 'n bygeloof is
volgens my 'n konnektasie met slegte ondervinding. Sommige mense glo
ook daarin as gevolg van indoktronasie van bv. ouers, maats, oupas en
oumas en selfs onderwysers. Dit is iets wat oorgedra word van geslag tot
geslag. Dit is vir jou om te besluit of jy dit sal oordra of dit net
eenvoudig ignoreer.
Ek het nie 'n bygeloof nie.
Net 'n geloof. Dit is in God drie-enig. Sy genade en liefde is dit
waarin ek glo en wil glo.
Gelukbringers is volgens my
definitief 'n bygeloof. Dit kan
nie veroorsaak dat jy sal wen nie. Oorwinning kom met harde werk en
deursettingsvermoë en geloof in jouself.
Daar is nie plek of tyd in vandag
se lewe vir bygelowe nie. Ons moet gefokus bly op dit wat ons wil uitleef
voor die einde van ons lewens. Ons moet eerder daarvan werk maak om mense
daarop te wys dat met Sy teenwoordigheid in ons lewe, verkry ons
al die geluk wat ons nodig het.
Wanneer mense nie weet wie hulle is
en waar hul siel hoort nie, hang hulle allerlei dinge aan. Dit
is eintlik jammer dat mense nie besef dat wanneer Jesus jou senterpunt
is, jy altyd kan kyk
na Sy leefwyse en sien watter pad Hy gewandel het hier op aarde.
Hy het nie bygelowe of gelukbringers gehad nie.
Ek weet ongelukkig te min van
sielkunde om vir jou te antwoord op jou laaste vraag. Ek glo dat dit
miskien gepaard kan
gaan met diepliggende vrese en moontlik die vraag: "Wat as dit waar
is en ek het my nie aan die bygeloof gesteur het
nie." Hulle sal eerder nie die kans
waag om dit nie te glo nie, in vrees wat moontlik met hul kan gebeur.
Baie dankie vir jou positiewe
bydrae in my lewe. Ek sien elke week uit na jou brief en wil saam met
jou 'n skalkse glimlag gee oor Vrydag die 13de! Groete - Amelia
Dagsê Dr Pottie, ek sal bv nie
sommer onder deur 'n leer loop nie, en as ek op plek is waar dit baie
donderweer, maak ek die vensters oop en sit ligte af, dit is maar soos mens
geleer het van jou oumas en ma's toe jy kind was maar eintlik is dit nonsens,
dinge gebeur net en party dae is dit net nie jou dag nie. Uit
ondervinding het ek al geleer dat dinge gebeur in drieë. Ook 'n ding aan
die ander kant is dat hoe meer jy dink aan negatiewe dinge wat jy nie wil hê
moet met jou gebeur nie, sal dit dan plaasvind of gebeur omdat jou " mind
" te veel ingestel is daarop..Jy is bang jy kry kanker, jou brein stuur
seker 'n chemiese stof af wat dan vir jou die groot k gee. Positiewe
dinkwyse is so belangrik, maar is nie altyd maklik om dit te behou nie
My ouma het gewoonlik die skëre
weggesit, die spieëls toegegooi en radio's ens afgeskakel, en jy mag ook die
telefoon gebruik het nie, Die oumense in daai tyd was hulle reg of
verkeerd, so is ons wat agtergebly het en groot geword het, met die gedagtes
gelos. Groetnes - Ilze
Hallo ST - baie dankie vir die
eposse van jou af, ek geniet dit baie. Wat Vrydag die 13e betref, ai, hoe kan 'n kind van die Here
aan sulke snert glo. Gelukkig is ek gesëen met 'n goeie sin vir humor en geniet
ek ( teen my eie beterwete) al die stories rondom die dag. 'n Engelse
vriendin van my praat van 'n " goeie sin vir humeur". Mooi bly en sterkte met alles wat jy doen. - Ester
Geagte doktor Potgieter - wat Vrydag
die 13e aanbetref, antwoord ek u vrae as volg:
1.'n Bygeloof is 'n geloof in iets
wat nie 'n amptelike geloof is nie. Ek dink dit het juis ontstaan agv
gebeutenisse soos die een wat u beskryf het, maw toevallig of as jy 'n Christen
is, godsvallig. Ek dink ook dat bygelowe 'n klap in God se gesig is.
2.Ek het NIE bygelowe nie, maar
wonder van tyd tot tyd (soos u) of daar werklik iets in steek.
3.Dit hang af van die waardegevoel
van die gelukbringer. As jy sentimenteel is daaroor omdat jou meisie/vrou dit
vir jou gegee het en dit jou aan haar herinner, is dit skadeloos. As jy egter
glo dat dit jou help om te wen of jou teen onheil beskerm, is dit 'n bygeloof
en weereens 'n klap in God se gesig.
4.Ten spyte van my siening is die
geloof in gelukbringers wydverspreid.(in Engels "rife")
5.Ek dink die mense se inherente
soeke na God of die bonatuurlike, sowel as hulle begeerte om 'n onregverdige
voordeel te hê en/of teen onheil beskerm te word, dryf hulle na sulke goed.
6.Ek sal liewer nie 'n opinie lug
oor sielkunde nie aangesien ek 'n rekenmeester is. Ek glo egter dat 'n Christen
NET in die drie-enige God en Sy gebod moet glo, dit bely en uitleef. - Fanie
Dr Potgieter - baie dankie vir
hierdie interessante brief en gedagte. Graag wil ek net die volgende met
u deel:
Ek het desjare by my oorlede moeder
verneem dat as 'n uil op die dak van jou huis sit, dood in die familie beteken
- dit was net 'n gedagte vir my, nooit my daaraan gesteur nie. Ons het op
Postmasburg gewoon en dié aand op die stoep gesit. Later bemerk ek en my
man 'n uil op my buurvrou se huis. So maak ek die opmerking en noem die
gedagte vir my man. Ek gaan later kamer toe en hy sit nog 'n rukkie op
die stoep. Toe hy kamer toe kom, sê hy daar moet iets groot fout wees by ons
bure, want hulle staan buite en binne die huis en huil. Vroeg die
volgende oggend toe verneem ek hulle dogter is skielik oorlede aan 'n klont wat
deur die long is en die dokters kon niks vir haar doen nie. Sy was op haar
laaste swanger en gelukkig kon hulle die baba red.
Ek probeer om gladnie ag te slaan
op bygelowe nie. Ek sny dit dadelik uit my gedagtes en gee géén aandag
daaraan in my lewe nie, want ek vóél dít kom nié van Jesus Christus af nie. Dit
bloot 'n aanval op ons geloof en ons moet so iets uit kanselleer in die naam
van ons Vader. Jesus groete - Annemie
Hallo
dokter - WOW - wat 'n
ervaring! Ek moet sê, as ek in so 'n situasie was, sou dit my 'n
hele ruk
geneem het daarna om weer my selfvertroue op te tel en nie te voel ek
het iets verkeerds
gedoen nie. Dit is altyd die eerste ding wat ek wonder, wat het ek
verkeerd gedoen of wat kon ek anders gedoen het, of het ek dan nou my
tye of iets
verkeerd onthou of gereël? Gelukkig vir ons ander gewone mense het
dit nou
hierdie keer met Dr gebeur wat baie meer ervaring het as myself
byvoorbeeld.
Jammer dit klink so kras as ek dit sê, maar ek sou eintlik dink
dat ek
verpletter gewees het vir 'n goeie paar dae.
Ek wil Dr gelukwens met Dr se "ek doen die volgende:" 10 uit 10. Dr
is reg. Die genade van ons Here is genoeg vir ons.
(Ek moet sê ek sou ook gewonder het oor die "Vrydag die 13de" ding,
maar ek weet ek sou dit ook soos Dr net verby laat gaan het. Ek glo nie in bygelowe
nie.)
· Wat is volgens jou 'n bygeloof? Hoe ontstaan dit? Die ontstaan kanseker
met oorlewering van familielede/gesinslede wees, bv. 'n kind van 'n ma
en/of ouma, of pa en/of oupa wat bygelowig is, sal moontlik self
bygelowig wees? 'n Ander rede kan
slegte ervarings self wees - neem nou bv. Dr se 'Vrydag die 13de'
ervaring - iemand anders sal dit verseker aan die Vrydag 13de bygeloof
toedig.
· Het jy 'n bygeloof? Nee, glad nie.
· Is gelukbringers 'n vorm van bygeloof ? Volgens my is selfs 'n "gelukbringer" een en dieselfde ding.
· Is daar in die morderne tydsgewrig nog plek vir
bygelowe? Ek dink nie so nie. Die beskikbaarheid van inligting en
tegnologie, moet dit
sekerlik beïnvloed?
· Hoekom dink jy het mense bygelowe? Ek mag verkeerd wees,
maar ek dink daar is meer as een rede: Eerstens wil so 'n persoon meer
'in beheer' voel van slegte dinge wat gaan /kan gebeur, want wanneer
mens in iets glo, dan gebeur dit gewoonlik so. Die gevoel is seker dat
sulke situasies dan meesal vermy kan
word? Tweedens is so 'n persoon van mening dat ons God nie in beheer
van alles is nie, dat daar sekere dinge is wat God nie beheer nie.
· Is daar sielkundige redes vir 'n bygeloof? Ja,
definitief. Die gesegde van "it's all in the mind" is presies
dit. Wat 'n mens gedurig aan dink, word wie jy is later. Volgens die
Bybel, moet die kinders van God hulle besig hou met alles wat mooi en
reg en goed is en in hulle gedagtes OOK, dus sal daar dan nie plek wees
vir allerhande vrese en gedagtes nie - maar nou ja, ons mensdom is nie
so eenvoudig nie, Dr sal beter weet as ek, of hoe?
Dankie vir die positiewe nuusbrief en brokkies elke keer. Sterkte met die groot taak. - Andra
Hi ST - juis omdat almal so 'n
ophef oor Vrydag die 13de maak - glo ek dit is my gelukkig dag. Miskien
omdat ek juis die dag so positief aanpak - kom ek nie agter as iets skeef loop
nie. Glo dit is maar net een van daai dinge wat op my pad moes kom.
Ek glo nie regtig aan
gelukbringers nie, maar is tog maar bietjie skrikkerig vir die bygelowe.
Soos bv. 'n swart kat oor die pad, onder deur 'n leer stap ens. Kan nie se of dit regtig
so is nie, want 'n tyd terug het daar 3 keer dieselfde week 'n swart kat oor
die pad gehardloop voor my kar. Het nogals gewonder wat sou gebeur, maar kan nie onthou of daar
iets erg gebeur het nie. Die kat wou seker maar net na sy huis toe.
Ek dink mense is bygelowig, omdat
hulle iets soek om in te glo. Dalk is hulle geloof in God net nie sterk
genoeg nie- (nie dat myne 100% is nie). Daar is mos iets oor 'n
verskietende ster ook - as jy een sien moet jy wens. Ek het bv. my kinders
geleer as jy 'n verskietende ster moet jy nie wens nie, maar bid -(en ons mag
vir mekaar vertel wat ons gebid het). Hoop
jy het 'n wonderlike dag. Groete - Karien
Hallo Salomon - Jy praat oor die
nagmêrrie daardie dag, maar ek glo soos jy: GAAN JOU VRESE TEGEMOET
anders Word dit 'n bygeloof - en glo my, dis nie lekker om altyd in iemand se
geselskap te wees wat die 13 vrees, en veral as dit Vrydag is nie. Hulle
word SUUR mense op daardie dae. so negatief dat mens self voel om dan liefs die
aardbol te verlaat.
Jou ervaring was bloot deur die
arrogansie van die skoolhoof - ek was lank in die Onderwys en ken daardie volk
te goed - hul dink hulle is beter as God en ALLE mense moet onder hul buig…
soort van. Nie almal is ewe erg nie - kyk maar ook na die onderwysers wat
lewenslank onderrig gee - behandel almal asof jy deel is van hul
"Onderdane" die kinders, en verwag as hul praat, moet jy op aandag
staan .... Ek wou nie so wees nie en het my lewe lank daarteen geveg -
toe betyds die Onderwys verlaat en besef mens kan GOD op ander plekke net so dien, indien
nie meer nie. Die tonnelvisie raak weg en mens word meer bruikbaar.
Dit moet eintlik 'n wonderlike dag wees. Baie goeie dinge het al met my gebeur
op Vrydag die 13e - en ook ander no 13's. Vriendelike groete - Mien
Goeiemôre ST! - Dit is `n Baie Goeie Môre - soos ook Vrydag
die 13de - want dit is die dag wat die Here gemaak het! Ek glo nie dat enige
persoon (skepsel), enige konnotasie moet heg aan die getal 13 nie... Ongelukkig
beteken dit vir jou dat dinge vorentoe op enige ander dag, ook kan skeef loop, al is
dit nie Vrydag die 13de nie - so: "Kyk wyd!"
Kom ek verduidelik vir jou hoekom ek so sterk voel daaroor:
Vier jaar en twee maande gelede het die Here `n besonderse "uitdaging"
oor
ons pad gestuur - Na drie kinders, elk vier jaar uit mekaar, ontdek ons tot ons
groot skok en verbasing - ek is weer swanger!
Dit was regtig `n krisis vir ons, nie net oor die blote feit dat ek
swanger is nie, maar omdat ek met die laaste swangerskap baie
komplikasies gehad
het. Ek het pre-eklampsie (hoë bloeddruk in swangerskap), `n
baba wat "small for dates" was en komplikasies met die laaste bevalling
ook
gehad...Ek en die baba het die geboorte nouliks oorleef. Klein
Wian moes dadelik na geboorte intensief toe - in `n suurstoftent, drup
op, x-strale
van sy longe en ander goed, wat ek nou nog nie mooi uitmaak nie...
Ekself het plat op my rug gelê - bloeddruk 260 oor 180...
Die verpleegpersoneel
sê
ek mag nie roer nie - nie eers om my baba te sien nie... En daar is dit
nou vier jaar later - en hier is weer `n ou babatjie oppad...
Ek en my man het baie geworstel. Wat staan ons tog te doen? Ek het
my vorige dokter en ginekoloog gekontak en ook nog `n onafhanklike opinie
gekry, en almal het saamgestem dat die swangerskap onmiddellik (toe agt
weke ver) getermineer moet word... Ons het net een groot probleem gehad
- ons is
christene - en ons glo glad nie aan aborsie nie...
Uiteindelik het die Here `n baie goeie ginekoloog in Pietersburg, oor
ons pad gestuur... Ons het alles voor hom op die tafel gesit en
sy opinie gevra. Hy het `n sonar geneem, my bloeddruk geneem, die
kroniese
medikasie gevra, my gewig geneem en bloedtoetse laat doen, onder
andere... Toe vra
hy om met ons te praat. Ons het ook vir hom gesê dat ons
nie die swangerskap wil termineer as daar enige ander uitweg is nie,
maar ons het ook geglo dat dit nie die wil van die Here is dat ek en
die baba sterf of dat die baba gestremd is, en my man dan die drie
ander kinders alleen moet grootmaak nie...Dr. Willie het gesê dat
hy ook `n christen is - wat wonderlik is - ek kan jou nie vertel nie,
die eerste Dr. wat enigsins hoop het en positief is! Hy het gevra dat
ons nie termineer nie - dat ons dit `n kans
moet gee, en hy het ook belowe dat ons op sy persoonlike intensiewe sorg en ondersteuning kan reken...
Ons het `n lang pad, die nege maande, saam geloop... Alles het
goed afgeloop... Ons was positief, het die medikasie baie versigtig,
maar getrou geneem, ek het van my kant af gereeld ligte oefening
gedoen, my nie ontstel oor onbenullighede nie en `n baie gesonde dieet
gevolg... Alles was beplan - hierdie keer `n beplande keiser - 19 Junie
2006...
Die Here het dit toe nie sò beplan nie. My water het
gebreek 20:00, 12 Junie 2006... Ek en Willem het dadelik `n oppasser
vir die kinders gereël en deurgery Pietersburg toe. Klein
Nika - net 2.2kg - maar blakend gesond,
is presies om 12:00, met `n noodkeiser, op Vrydag die 13de 2003
gebôre!!!
Ek was maar seer na die keiser - maar alles het wonderlik
afgeloop...Nika is nou drie jaar en vier maande oud... Sy is `n
pragtige dogtertjie...Blonde haartjies, blou ogies, lag altyd...`n
seën vir ons en ook vir almal om haar... Haar naam is
afgelei van Domenique - wat "Born to
God" beteken...
Vrydag die 13de sal nooit weer vir ons `n negatiewe konnotasie inhou
nie. Ek is sommer vies ook - as mense sê dinge loop verkeerd op
dié dag...
Wat jou vrae betref:
1. `n Bygeloof is iets buite die nornale, iets wat nie sin maak nie, wat mense in glo...
2. Hoe ontstaan dit? - Toe Nika klein was, het Willem altyd uit die
bloute by die huis opgedaag wanneer sy begin huil het. Ons bediende het
naderhand
geglo sy "roep" hom, en dat ons in ons spore moet trap as sy begin
huil - want die baas gaan nou-nou kom, en dan kom hy! Jy sien wat ek bedoel, maar
ek dink mens moet die ingesteldheid hê. As jy daarvoor soek
en gefokus is daarop, sal dit vanself kom...Jy sal wel iets kry wat
gebeur het - wat jy
met `n geloof kan
verbind - as jy wil!
3. Ek dink tog gelukbringers is `n vorm van bygeloof. Ek dink nie
dis net `n vorm van bygeloof nie, ek dink ook dis `n vorm van afgodsdiens.
4. Kyk hoeveel van jou e-posse begin of eindig met "As jy hierdie
een aanstuur na soveeel mense, sal goeie geluk,geld,liefde uit die
bloute binne soveel of solank verskyn? Ek sou dink ons het lankal
met hierdie goed klaargemaak, maar hoe groter die leemte in mense se
lewens word - hoe meer probeer hulle dit vul met ander goed. Maak
dit sin?
5. Geantwoord deur bostaande?
6. Ek dink bygelowe is definitief sielkundig. Die mens is `n
lisigene wese - hy wil graag - moet eintlik - aan iets glo...
Dit was nou `n lang storie. Ek weet nie of dit vir jou iets gaan
beteken nie, maar ten minste het ek dit ook nou van die hart af gekry...
Baie Dankie weer vir `n baie interessante en opbouende nuusbrief! - Nicola
Hallo ST - ja, bygelowigheid bly 'n
toffie in ons samelewing. Dink maar net aan onder deur die leer stap,
gelukbringers van sportspanne, ens. Daarby is dit vir baie van die swart
gemeenskappe in ons land 'n baie groter kwessie - ek hoor van die
"boererate" teen HIV/Vigs om maar een van die "modernste"
te noem.
Maar vir die Christen bly bygelowe
altyd 'n taboe. As ek my voorsiening verwag uit die hand van die Voorsiener, kan ek nie verstrengel
raak in energie-tappende bygelowigheid nie. Dit is tyd dat Christene erken dat
hul nie deel het aan so baie van die dinge wat ongelukkig deel van ons
Suid-Afirkaanse kultuur geword het nie, bv. Lotto, sterre voorspel, palmlees
ens.
Ek salueer jou vir die houding wat
jy inneem: wat met jou gebeur het op Vrydag 13 Oktober (vir slegs 10 min
lank), het niks te doen met die datum nie, maar doodeenvoudig omdat die lewe
gebeur...Dankie dat jy die moed het om jou debakel hardop te erken, daaroor te praat
en jou kop op te tel om die mislukking vierkantig in die oë te kyk.
'n Slim ou het gesê dit verg moed
om jou "stumbling block" te verander in 'n "milestone" en
nie 'n "gravestone" nie. Doe so voort!! Groete - Elzette
Hallo ST - jou ervaring by die
hoërskool het myns insiens niks met Vrydag die 13de te doen nie. Dit was die
gevolg van 'n mens wat in sy gewone werkomgewing 'n ander mens se
''werkomgewing'' moes akkommodeer en, soos jy in jou nuusbrief gesê het, nie al
die fynere puntjies van radiowerk in aanmerking geneem het nie. Ek sou eerder
sê die oorsaak van die fiasko was 'n gebrek aan GOEIE kommunikasie en nie
bygeloof nie.
Met GOEIE kommunikasie bedoel ek
dat jy nie die skoolhoof ingelig het dat jy absolute stilte en geen
onderbrekings van enige aard wil hê nie. [ek
het dit wel aan hom gesê – ST.]
Die skoolhoof het jou ook nie
ingelig oor die skool se roetine of werkwyse nie en jy het nie daaraan gedink
nie, want om 'n skool te bestuur, is nie deel van jou werkwêreld nie.
Lewer gerus weer praatjies op
Vrydag die 13de, MAAR probeer om meer tyd tussen afsprake te kry vir al die
daaglikse katastrofes wat op enige dag van die jaar kan voorkom, en probeer
maar om jou radiopraatjies liewer van die kantoor af te doen waar jy beheer het
oor die omgewing. (Heng, klink my ek moes verder gegaan het as Sielkunde 3!)
Wat is 'n bygeloof? HAT sê dit is
geloof wat die natuurlike en bonatuurlike vermeng. Dit is baie raak beskryf,
want 'n mens glo natuurlike verskynsels of fenomene het bonatuurlike ''magte''.
Ek het egter geen idee hoe en waar 'n bygeloof ontstaan nie, maar ek sou sê die
meeste het waarskynlik ontstaan in die antieke tye toe mense nog nie so
''wetenskaplik'' ingestel was nie.
Ek het nie self 'n bygeloof nie en
sou myself ook nie as bygelowig beskou nie. Vrydag die 13de was vir my 'n
doodgewone dag. Die verkeer tussen die Strand
en Kaapstad was ''normaal'', so ook my werkdag. Trouens, Maandag die 16de was
vir my 'n slegter werkdag as Vrydag. Ek is nie versigter vir 'n swart kat wat
oor my pad loop nie as vir enige ander kat nie. Ek loop wel nie onder 'n leer
deur nie, want dit is gewoon dom. Die ding kan enige tyd omval, so ook 'n stellasie van
enige aard. Haai, nou kan
ek nie eens aan nog 'n bygeloof dink nie. Daar is een, ek kan nie onthou wat nie, waarvoor jy sout oor
jou linkerskouer moet gooi as jy die uitwerking daarvan wil keer.
Gelukbringers kan seker 'n vorm van bygeloof wees as 'n
mens obsessief begin raak daaroor.
Ek dink ons hedendaagse mense
behoort rasioneel genoeg te wees om nie toe te laat dat bygelowe hul lewe
oorheers nie. Ons christelike lewensbeskouing laat ons ook nie toe om bygelowig
te wees nie, want God is tog groter as hierdie bygelowige ''bedreigings''.
Mense het seker maar bygelowe omdat hulle iets meer konkreets soek om in te
glo; ek weet nie regtig nie. Die meeste bygelowe is egter deur duisende
geslagte van die een geslag na die volgende oorgedra - die dat ons vandag nie
regtig weet waar al die goed vandaan kom nie.
Ek dink daar kan sielkundige redes vir bygelowe wees,
maar dit sal uiteraard van mens tot mens verskil na gelang van die graad van
bygelowigheid. Is daar nie iemand wat al 'n doktorale studie oor bygelowigheid
gedoen het nie? Dit sal interessante leesstof wees. Groete en lekker dag - Mariette
Haai ST
- hier vind ek
toe vanoggend jou e-pos weggesteek onder "Junk-Mail". Watse nonsens is
dit nou, gelukkig is dit spoedig herstel. Ek geniet jou lekker
geselsies, baie dankie vir jou weeklikse moeite ! Dit bewys eintlik net
dat,
maak nie saak hoe besig jy is nie, jy kan
deur effektiwe tydsbeplanning altyd tyd "maak" ! Oor jou RSG geselsie,
ek is werklik beïndruk met die wyse hoe jy die situasie,
na die fiasko, insien! Puik !Vreemde woord die "puik", of hoe?
Oor Vrydag die 13de: Volgens my is bygeloof 'n sonde / soos die Woord
van God sê ! Ek probeer alles uit 'n christelike oogpunt bekyk en
daarom steur ek my nie aan sulke nonsies nie ! Gelukbringers is
defnitief 'n deel van bygeloof. Dis altyd vir my lagwekkend hoe party
mense meer geloof het in die sogenaamde
gelukbringers as in God. (Gelukbringers se ontstaan en wortel is direk
afkomstig van Buddisme ! ) God, soos Sy Woord - was, is en sal altyd
dieselfde
wees - daarom dink ek, maak nie saak of ons in 'n moderne samelewing is
nie,
alles in die Bybel is nog steeds van krag.Ek dink mense het bygelowe
omdat
hulle in vrees lewe en is onder die indruk dat bygelowe hulle sal / kan
beskerm
?! Shalom - Andries
Hi daar - dit
is goed om weer van jul te hoor, dankie vir die gereelde vormings tekste. Ek wil net graag ietsie noem oor bygelowe.
Ek dink dat
almal ‘n God dien met verskillende benaderings omdat die mens geskep is om
onderdanig te wees. Wat sin maak vir die een groep aanbidders is nie noodwendig
wat saak maak vir die ander groep nie.
Elke groep
neem ‘n vorm van geloof aan, soms sonder ‘n grondlegging of fondament of anders
met verregaande beginsels wat nie logies oordenk kan word nie.
As ons
byvoorbeeld kyk na die vermeerdering van die brode en vissies in die Bybel:
Sommige glo dat Christus Jesus nooit die brood vermeerder het nie. Hul siening
is dat die ander omstaanders hul kospakkies versteek het omdat hul nie wou deel
nie en skaam geword het omdat die seuntjie bereid was om te deel, toe eers hul
kospakkies uitgehaal het. Hierdie vorm van benadering is die teengeloof van die
beginsels van die Bybel. So word verskillende weergawes gegee van die verhale
en sommige omdat hul geen grondlegging van die waarheid het nie neem hierdie
vorms van bygeloof aan.
Soos die
slagspreuk “ If you don’t stand for something, you’ll fall for everything”
Om nie eers te noem van die groot verleier agter al hierdie bygeloof nie
(die slang). Hy sal alles in sy vermoë doen om die teendeel te bewys van die
skepper (Drie Eenheid). Integriteit is deesdae ‘n moelike lewenshandeling vir
die mensdom. Dit is in vandag se tyd baie makliker om alles te glo om in guns
van mense te wees, as om fondamenteel te glo en deur mense uitgewerp te word.
Matteus
10:32,33 …. ‘Nie almal wat sê Here Here sal die koninkryk van God beërwe nie, maar hy wat die wil van God doen’. Bygeloof
is die norm voor die wederkoms van Christus. Openbaring …. “hy (slang) sal so
ver gaan om tot die uitverkorenes te probeer verlei as hy (slang) kan”. Groete - Henrico
Wat is volgens jou ‘n bygeloof?
Hoe ontstaan dit? ’n Bygeloof voel ek is iets diep in jou binneste waarvoor jy
n groot vrees het en die duiwel en jou versteekte sondes gebruik dit om jou
vreesbevange te maak.
· Het jy ‘n bygeloof? Nee
· Is gelukbringers ‘n vorm van bygeloof ? Ja
· Is daar in die morderne tydsgewrig nog plek vir bygelowe? Nee! Met God se
genade en Sy liefde en onderskraging is daar nie plek vir sulke onsinnighede
nie. Vanoggend op radio Tygerberg het die prediker gese' dat God ons in Sy
regtehand vashou. Watter groter versekering wil ons dan he'. Daarom dat God se,
glo sonder om te sien. Maar die mense wil sien om te glo daarom al die swakhede
in ons lewens
· Hoekom dink jy het mense
bygelowe? Bygelowe en die woord "spoke" kom van die vroeer jare af.
Ek voel meer dit was gebruik gewees om mense af te skrik. Daar is in elk geval
nie iets soos spoke nie, dis demone. Bygelowe kom ook van ons voor ouers af en
is oorgedra van geslag tot geslag.
· Is daar sielkundige redes vir ‘n
bygeloof?
As jy n opregte kind van God is en regtig n oorgawe gemaak het en tot bekering
gekom het, het jy nie nodig om te glo in bygelowe nie.
Om net alles hier bo te bevestig. Ek het laasweek Vrydag die 13 Oktober 45
jaar oud geword. Daar het niks verkeerd geloop nie. Matter of fact ons
klompie mense het heerlik saam gekuier en almal het veilig by hulle huise
aangekom. Die ding van vrydag die 13 de, swart katte en moenie onder lere
deurlope nie is n gevolg van ongelowigheid. God se', as gevolg van
onkunde gaan my volk ten gronde.
Ek is heeltemal teen bygelowe en
glo glad nie daaraan nie. Dis van die duiwel en sodra so iets in ons lewens
opduik moet dit vir ons n bewusmaking van ons of n sonde is wat wil oorheers in
ons lewens.
Dankie ST vir jou besonderse wyse
waarop jy ons op hoogte hou en ons so ook op jou manier geestelik voed. Ek sien
elke week uit na jou nuusbriewe. Lekker week verder vir jou en die Here se seën
is met en op jou. Mooi dag. Regards –
André
Môre Dokter - ek het toevallig die
onderhoud gehoor oppad werk toe! Ek kon heel tyd die hoof se stem in die
agtergrond hoor, maar u het uself nog steeds goed van die taak gekwyt ten spyte
van al die steurings! Lekker dag - Mari
Hi Dr Potgieter -
die mens is ‘n snaakse wese. Indien iets op ‘n anderdag verkeerd sou loop
in jou lewe, sou jy nooit dit toevoeg met ‘n datum of spesifieke dag nie.
Indien dit dan nou op die 13de en op ‘n Vrydag gebeur word gou
gesê : ek het geweet iets gaan seker vandag met my gebeur. En onmiddellik word dit toegeskryf aan daardie “ongelukkige“ nommer en dag.
Ek glo dat
indien jy nie jou innerlike sterkte gebruik nie, trek jy daardie ‘onheil’ na
jou. As jy heeltyd glo iets gaan gebeur, word jou liggaam swak vir enige
aantrekking – d.w.s jou geloof word swakker en jy glo dat iets met jou gaan
gebeur. Hoe meer jy dit vertel aan ander of dink aan
iets sleg of swak wat kan
gebeur – trek jy daardie swakte aan.
My ouma het altyd
die sêding gehad (wanneer ons “gewonder” het oor iets wat “dalk” kan gebeur wat ons nie
graag wou gehad het moet gebeur nie): “WYK, SATAN, WYK – MOENIE JOU NES IN MY
HUIS KOM MAAK NIE”. Nodeloos om te sê – sy het summier ons monde
toegedruk en gesê sy wil nie weer hoor dat ons ‘n slegte uitspraak maak van
iets wat nog nie gebeur het nie.
So, wat ek
eintlik wil sê, jy moet positief ingestel wees, vermy die negatiewe
denke en bou op goeie, mooi en wonderlike denke.Ek glo dit help, dit het my al
baie gehelp en ek gebruik ook soms hierdie uitdrukking van my ouma – met humor
en ‘n lag gepaard daaroor. So onthou ek my ouma ook en ek dra dit
natuurlik aan my kinders ook oor vir die toekoms!
Ek weet u is baie
gelowig, so ek sou graag wou weet waaroor u praatjie gegaan het – NEGATIEF
miskien met al hierdie toevallige insidente en was die omgewing dalk reg vir
hierdie gebeure met die radio? Dalk was iemand (dalk u of die
organiseerder van die skool) bang dat iets kon voorval! Dalk moes u dan
ook my ouma se spreekwoord gesê het! Geniet u dag. - Susan
Hallo Dr - ek het
toevallig na die onderhoud op RSG geluister en dit het darem nie té erg geklink
nie. Nog ‘n bygeloof is vliegtuie wat nie ‘n ry nr 13 het nie. Groetnis - Johan
Beste Dr
Potgieter - ek is regtig jammer dat jy so ‘n nagmerrie beleef het op Vrydag die
13de, maar kom ons skuif die 13de bietjie eenkant toe. Dieselfde
plek, dieselfde tyd sou presies dieselfde met u gebeur het. Die datum het
absoluut niks daarmee te doen nie. Die skoolhoof doen dalk elke dag op
daardie tydstip sy aankondigings, en hou in gedagte dit gebeur nie elke dag dag
hulle gassprekers by die skool het nie. U laat egter na om te se hoe die res van u dag verloop het.
Elke persoon wil
graag die blaam plaas op iets of iemand indien iets skeef loop!! Dit is
menslik, maar om ‘n syfer te blameer vir swak tydsberekening – ek dink nie so
nie. My persoonlike doelwit is om daagliks wanneer ek getrotseer word
deur negatiewe invloede, die teendeel te bewys. Kom ons hou duimvas
vir die volgende Vrydag die 13de, ek is seker dit gaan vir u ‘n persoonlike
oorwinning wees om dit ‘n absolute wen dag te maak.
Groete en baie
dankie vir al die inspirerende boodskappe, ek het gisteraand na Vic Vermeulen
geluister en ek is vandag eers op ‘n “high” , ek dink my kollegas gaan sukkel
om vandag by te hou met my energie en dankbaarheid. - Janet
Geagte Dr.
Potgieter - ek is nou een wat glad nie glo in bygelowe nie. Ook nie aan hierdie
kettingbriewe (“stuur aan 5 mense of........) nie. Ek glo dat alles wat oor
mens se pad kom ‘n doel het, en die Here stap saam met jou daardie pad. Hy sê
daar sal niks oor jou pad kom wat jy nie sal kan oorbrug nie. Ek het al baie beproewinge in my lewe gehad, en
Hy het maar net elke keer vir my ‘n sterker mens laat uitkom aan die ander
kant. Baie dankie vir die leesstof, ek waardeer dit en leer daaruit. Lekker dag
- Melanie
Dr Potgieter -
ek dink die onsekerheid, met ander woorde die tekort aan kennis en verstaan van
die situasie dra by tot die onsekerheid wat bygelowe laat voortleef.
U situasie by
die skool word nou uitgelig omrede dit Vrydag die 13e is maar sou dit ‘n maand
tevore in die selfde omstandighede gebeur het was daar geen sprake eers van ‘n
bygeloof nie. Vele mense sit en kyk na Vrydag die 13e met ‘n vergrootglas
sonder dat hulle dit eers besef en die oomblik wat iets gebeur word Vrydag die
13e die eer daarvoor gegee. Groete - Jaco
Goeie more Dr.
Potgieter - na aanleiding van die kostelike nagmerrie ondervinding van u – nee
ek het nie erg aan enige bygelowe nie , miskien is ek naief maar ek het nog
nooit dit as `n struikelblok beleef nie. My eerlike opinie is dat u
ondervinding ook eerder toegeskryf kan
word aan swak beplanning . Ek glo as die betrokke skool weer so `n geleentheid
sou kry hulle dit heel anders sal benader en dit ook suksesvol sal aanbied .Ek
stuur aan u sommer die paar mooi sinnetjies:
The greatest
tests are the ones we view as stupid
We forget to tell those who are important to us just how much we care.
We forget that every cloud has a silver lining.
We view our problems as though they can never be solved.
We forget that there is always a tomorrow.
We hold on to the past like it can help us through today.
We see challenges as a trial, forgetting that trials are what give us
character.
Baie dankie dat u
my lewe ook gereeld met kosbare gedagtes en ervarings aanvul. Hoor graag weer
van u. Groete - Corrie
More sê - ek
was heel verras om Vrydagoggend jou stem op RSG te hoor - ek was oppad
Stellenbosch toe en het toe eers besef dat dit Vrydag, die 13e was! Lekker week
- Suné
Geagte Dr.
Potgieter - Jammer ek so lank draai met
'n opmerking oor 13 Oktober 2006. Ek weet daar is soveel mense wat glo dit is
'n slegte dag. Ons weet dat 13 die getal van Satan is en as dit op 'n Vrydag
val dan is alles verkeerd, onderste-bo en ongelukkig. Toe ons Hemelse vader
Lucifer, die mooiste engel uit die hemele gegooi het en verban het na planeet
aarde het hy hom die planeet gegee. Die mooi engel wat hom ook mooi voordoen
plaas allerhande snaakse gedagtes en gewoontes op ons tradisielys. Gooi sout
oor die linkerskouer soort van ding, so ook Vrydag die 13de. Dinge loop
verkeerd, want hy bepaal dit so, as ons ingee en al die dinge glo, dan word ons
slawe van die "donkerkant" en hy kry lekker en maak siele bymekaar.
Met al die gewoontes en tradisies wat strydig is met die van ons Hemelse Vader
moet ons ernstig aan Sy voete lê vir krag, sterkte, insig en verstaan waar, hoe
en wanneer. Hy het ons die verstand gegee, Hy het ons 'n Lewende Siel gegee, al
wat ons moet doen is om Hom te dien en eer en aan Sy wette gehoorsaam te wees
en nie toelaat dat die verleier ons leier word nie. Met ons ongeloof maak ons
net die negatiewe sterker. In Sy Heilge Naam - Monica
Copyright © 2005 All
rights
reserved.
Dr ST Potgieter
email: st@pitkos.co.za
|
|