|
Daar is ‘n
uitdrukking in Afrikaans “agter geslote deure” wat beteken dat sekere
dinge en gebeure soort van geheim word. In elke mens en familie se lewe is daar
sekere insidente, hartseer stories, bitterheid, seerkry, vetes en teleurstellings
waaroor jy nie graag praat nie.
In hierdie rubriek
lig die sluier en toe deure en toe stories word oopgemaak. Jy kry ‘n kykie in
die lewe van jou medemens. Stukkies lewe van mense wat die moed het om oor
probleme, swaarkry tye en seerkry dinge van hulle lewe te praat. Maar ook oor
vreugdes en oorwinning, en oor probleme en swaarkry tye. Vir elkeen wat die
moed het om sy of haar hart hier oop te maak en te vertel, ‘n groot dankie.
Om mee te deel van
seerkry dinge en pyn wat soos ‘n dolk in jou hart steek, is terapie vir die
siel en gemoed. Dis ook salwing en goed vir die gees om te vertel van jou goeie
tye en dit met ander te deel. Dit dien as onderskraging en inspirasie vir
ander, gee weer moed en hoop vir iemand wie nie uitkoms sien nie.
Het jy nodig om
die geraamte in jou kas uit te laat? Jy kan
dit onder jou naam doen of anoniem bly. Stuur dit na st@pitkos
en skryf in die onderwerplyn “my lewe my storie”.
Die stories
hieronder is soos ek dit ontvang. Soms het ek wel ‘n bietjie taalversorging
gedoen, maar darem nie te veel nie. Die meeste opskrifte by die vertellings het
ek self geskryf en bygesit.
Kan nie so ver kom om te vergewe nie
Anoniem
My lewe het gaan stil staan die dag toe
ek uitvind dat,die seun van my stiefsuster my kêrel sin is. Na my kraamverlof
van drie maande is ek terug werk toe,my suster het by my kom bly om na my
dogtertjie te kyk.
My kind was ‘n jaar en vyf maande toe
gaan sy weg,en ek moes iemand anders kry om na haar te kyk. Net toe my
dogtertjie die ander meisie gewoond is, toe wil my suster weer terug kom. Ek
het die meisie swaar laat gaan want ons twee het baie goed oor die weg gekom,as
ek geweet het wat op my wag het ek haar nooit laat gaan nie.
‘n Paar maande na my suster terug by my
is,merk ek op dat sy swanger is. Om ‘n lang
storie kort te maak,die kind is gebore,en iemand uit die bondel uit word sommer
gekies as pa. Hoe groter die kind word wys dit dat verkeerde man as pa gekies
is, vrae word gevra maar sy en die persoon na wie die kind lyk ontken alles.
Toe die kind nege jaar oud word,kry my
kerel ‘n dagvaardiging om in die Hof
te verskyn vir onderhoud. Daar is die aap toe sommer uit die mou en hy moet
onderhoud betaal vir die kind wat hy by my suster het. Ek was ‘n wrak en was
aangeraai om so gou as moontlik vir my kind te vertel voordat sy die goed op
die straat optel.
My dogter raak nou in Mei 14 en die seun
het in April 12 geword. Ek en my kind is baie lief vir die seuntjie,ek oorweeg
dit om hom volgende jaar by my te vat,hy wil graag by my kom bly. My gewese
kerel wil nie verstaan hoekom ek hom gelos het nie hy sê dat hy tog niks aan my
gedoen het nie.Ek stel glad nie meer belang in mans nie,my gewese kerel en my
suster toer deur die mans en meisies. Sy is nou weer swanger met haar derde
kind,elkeen het sy pa.
Ons het die 18de Februarie ons broer
begrawe en ons twee het mekaar so ver moontlik vermy. My ma praat gereeld met
my en moedig my aan om te vergewe,sy was net so geskok oor dit alles.Sy noem
vir my hoe kan
ek verwag dat God my moet vergewe en ek wil nie vergewe nie.
Dr ST my probleem is ek kry dit nie reg
om te vergewe nie,en ek weet my siel gaan verlore as ek met die haat in my te
sterf kom. Asseblief help my.
Een ding waaraan ek vasklou
Elize
Ek het lank
gesit en dink aan die brief “dit alles begin met ‘n droom” gedink, en gewonder
hoe ek op die brief moet reageer. U is reg, ons almal dink het drome gehad toe
ons nog op skool was en wat jy eendag wil word. Eers wou ek n verpleegster
word, maar gou besluit dat dit nie vir my is nie. Ek is te sag en kan nie mense se leiding
hanteer nie. Toe besluit ek maar dat ek eendag ook wil trou, dat my huiwelik n
sukses sal wees, en date k en my maat saam vir die HERE sal dien en sal werk,
dat ek grraag 2 kinders
uit my huiwelik wil hê, waarvan een ’n seun moet wees en die ander een ‘n
dogter.
Maar dit
het net ‘n droom gebly. Ek is wel getroud en in die begin was ons baie
gelukkig, maar daarna he thy sy ware kleur begin wys. Eerste plek het hy nie
soos ek in ‘n kerk groot geword nie. By my werk of by enige sosiale plek waar
ons gekom het, mag ek nie met die teenoorgestelde geslag gepraat het nie,
anders het ek n verhouding met elke een gehad en is ek sleg gesê. Ons
eerste kind is toe ’n seun, maar was baie siek met sy geboorte. Hy is gebore
met ‘n hart klep wat nie toegemaak het met geboorte en het daarby ook ‘n long
probleem gehad. Hy was 2maande lank in die ICU toe ons hom die
eerste keer huis toe kon neem. Daarna het ek weer geboorte geskenk aan n
dogtertjie, ook met dieselfde probleem gebore. Sy is ook oorgeplaas na die ICU
in Morningside kliniek. Seventien dae daarna is sy oorlede. Intussen het my man
met ‘n verhouding begin met een van sy kollegas wat saam met hom werk. Ek het
vir hom en haar ’n keuse gegee deur ‘n brief van die prokureur. Hy het egter
besluit om by my en ons kind te bly. Maar steeds daarna is ek beskuldig van
verhoudings by my werk. Ek is naderhand so in myself toegeskulp dat ek te bang
was om met enige iemand te gesels.
Vier jaar
later na my dogterjie se dood het ek weer geboorte gee aan ‘n seun. Hy is twee
dae na sy geboorte oorlede met dieselfde probleem as die vorige kinders, en weer
vier jaar later toe probeer ons weer vir die laaste keer om te kyk of ons nog n
kind kan hê. Dit was ook n dogtertjie maar ook met dieselfde probleem gebore,
Haar naam was Xanté. Sy het egter vir 3maande en 1week geleef. Van geboorte af
was sy in die ICU by Flora Kliniek in Roodepoort. Na haar dood het ek en my man
verder van mekaar af beweeg en hy het al hoe meer begin te drink en my meer
begin te beskuldig van valse verhoudings. Hy het my ook te begin beskuldig van
dat ek nie vir hom kinders kon gee nie.
So ‘n jaar
terug is sy beste vriend gediagnoseer met lewer kanker. Sy vrou was my beste
vriendin en ons het altyd op mekaar se skouers gehuil. Toe begin sy vir my man
sms te stuur oor hoe Johan met haar baklei en met haar ongeskik was. Ek het
egter dit daar gelos en maar gedink sy soek maar n bietjie simpatiek. Ek meen
haar man is in die hospitaal en kry toe chemise behandeling vir kanker. Ek het
haar ook omtrent elke dag gebel en haar moed ingepraat.
My enigste
seun wat ek toe nou het, hy is 15 jaar oud, speel met sy pa se selfoon en kom
toe op ‘n boodskap af wat my man vir ons vriendin “Surita” gestuur het wat sê:
“Ek is jammer oor vanoggend wat sê die suster, onthou net ek is lief vir
jou.” Daardie boodskap is gestuur die dag voor Johan oorlede is. Die dag van sy
dood het my seun weer op ‘n boodskap afgekom wat sy pa vir Surita gestuur het.
My seun het die boodskap vir my kom wys wat sê: “weet net dat ek baie lief is
vir jou.”
Ek het my
man daarmee gekonfronteer en hy het met ‘n storie gekom en gesê dis nie hoe hy
dit bedoel het nie. Net dat hy haar moed wou gee en haar laat weet dat hy weet
hoe sy voel. Ek het dit daar gelos maar glo my toe begin al my elendes. Waar
ons ook al gaan was ek gedwing om haar saam te nooi. Sy het elke dag my gekontak
om te hoor of ek dan konsuis ok is. Altyd wou sy hoor of dinge darem nou tussen
my en my man nog goed is. Alles wat ek vir haar gesê het, het sy gedraai
en met n ander storie by my man gekom. Hulle (sy en my man) het begin om my en
my seun sielkundig aftebreek. Ek moes hoor wat se goeie vrou is sy en hoe
wonderlik is haar 2 dogtertjies. My seun het ook in die proses deur geloop.
Waar hy en sy pa altyd na aan mekaar was, het my man hom ook begin afbreek. Dit
het naderhand so erg geraak dat ek my hand in my eie lewe wou sit.
My man se
broer het later toe begin inspring en met Surita se ouers gaan gesels. Hulle
het dit natuurlik ontken dat daar geen verhoudings tussen hulle is nie, maar ek
het al die bewyse gehad van die boodskappe wat hulle vir mekaar gestuur het.
Haar ouers het haar aangesê om die vrienskap tussen ons te verbreek en haar
selnommer te verander. Maar wat ek nie gesê het is dat sy ook by die
Verkeersdepartement werk waar my man werk. Dus sien hulle mekaar nog steeds en
bel mekaar nog steeds. Ek wou van my man skei en het toe reeds vir berading by
‘n sielkundige geloop. Sy het my man gekontak dat ons haar een keer saam moes
gaan sien. Daar het my man vir haar gesê dat hy bereid was om die vrienskap met
haar te verbreek. Dat ek hom nog ‘n kans moet gee. Ek het hom toe maar weer ‘n
kans gegee, ek meen ons het ‘n belofte saam voor GOD gedoen toe ons die dag
getroud is, en die woord leer ons mos om 70 maal 70 keer te vergewe.
Dit het toe
begin lyk of my man aan die verander is, wat hy het opgehou om so baie te
drink, maar wat my pla is dat as ons deesdae ‘n rusie het, haal hy elke keer
Surita se naam op. Dan word ek maar weer vals beskuldig en sleg gesê. Dit is of
hy baie meer vir Surita omgee as wat ek geding het. Dit lyk vir my of as hy
iets hoor van haar dat dit hom omkrap. Hy kom met so ‘n storie uit dat ek
wonder waar hoor hy dit, aangesien volgens hom dat hulle mekaar nie meer
kontak. Maar hy is op hoogte van alles wat sy en haar kinders doen. U sien haar
ouers het haar meegedeel dat daar nie plek in hulle lewe is vir ‘n 2de
skoonseun nie. Ek weet nie of dit dalk dit is wat hulle dalk uitmekaar hou,
omrede haar ouers na haar kinders kyk as sy werk. Ek het ‘n foto van haar ook
al in my man se besit gekry in hierdie tyd wat hulle konsuis nie meer mekaar
sien nie.
Ek weet
egter nie meer hoe moet ek die situasie hanteer nie, want eendag sê hy is lief
vir my, en die volgende oomblik word ek weer vals beskuldig en word haar
naam weer genoem. My eie ouers woon so ver van my dat ek hulle nie wil ontstel
nie. Hulle is slegs maar pensionarisse wat afhandlik is van ‘n
staatspensioen.
Daar is
darem nog een ding waaraan ek vasklou en dit is my geloof. Ek bid elke dag dat
die HERE my moet lei en my moet help dat ek nie moet haat.
Maar my
grootste gebed nou is dat die HERE sy Wil aan my moet bekend maak en dat ek
graag sal wil lewe soos Hy wil hê ek moet lewe en dat ek graag vir Die HERE wil
werk. Maar tot dit word my nie gegun om eers kerk toe te gaan want dan het ek
‘n verhouding met die dominee. My man het al tot ons dominee uit ons huis
gejaag, maar een ding is seker en ek gee nie om wat hy sê of doen my kind sal
ek in die huis van die Here groot maak, en intussen sal ek maar bly bid en hoop
op ‘n wonderwerk.
Hierdie is
my storie dokter wat ek probeer kort stel soos moontlik, maar glo my daar is
nog baie wat ek nie eers vertel het nie.
Die
Boemelaar Sidney Wilken
Rico
Kruger
1972. Ons
begin ‘n Christelike koffiekroeg in Bloemfontein – Klub 6:13 (Rom 6:13) Laat
een Saterdagaand sien ons ‘n ouerige man op ‘n bankie sit. ‘n Boemalaar met die
naam Sidney Wilken. Hy het my vriend geword vir 5 jaar en deur die 5 jaar het
ek so baie lief en leed saam hom beleef.
Later het ‘n lewensskets van hom geskryf.
‘n
Boemelaar – die uitgeworpene en tog ‘n mens soos ek en jy. Hy was ook ‘n kind.
By sy geboorte is daar ook gelag en nou ? -nou word daar weer vir hom gelag.
Die baba wat ‘n verstoteling geword het. Toe is gelag omdat hy mooi was en ‘n
swakkeling in die hande van sy moeder. Hy moes vir alles huil of vra, kon self
niks doen nie en vandag? Ook ‘n swakkeling tussen ander. Weer eens moet hy vrae
vir alles. As kind was dit reg en mooi, maar vandag ‘n skande.
Mooi drome
is gedroom rondom hierdie kind. Hy gaan nog dié kind word, ‘n bekende en die
kind van alle kinders, die een wat gaan uitstyg of dalk nog ‘n begaafde
kind? Wie weet ? Alles word dopgehou, hy
is nog lam nog in die knie…maar een van die dae gaan die knaap kruip en loop.
Elke beweging is net reg en dit moet so wees, want die kind kom uit ‘n
besondere huis, nie maar nog sommer ‘n huis nie – nee, ‘n opgevoede huis, almal
is goed geleerd en opgevoed. Pa, Ma, al die ander kinders. Selfs die arme ou
brakkie weet om sy dinge buite te doen en dan ook nog op ‘n sekere plek – en
steeds groei dié kind.
Alles word
gegee – maar ook word baie verwag van die kind. Hy moet alles kan doen, musiek, blokfluit, sport en ekstra
klasse vir die skoolwerk.
‘n Kind –
met alles en ook sonder alles.
‘n Kind
met ouers en tog ook daar sonder , afwesige ouers.
‘n Kind
wat as baba aanvaar is wat nou moet aanvaar dit wat na sy kant toe kom. Die pa
en ma se opgewondenheid is verby.
‘n Kind
met ‘n hart wat brand om aanvaar te word – hy ondersoek eers en by die regte
plekke, maar daar is niks, net ja en ‘n hand vol geld.
Vandag -
‘n Kind is hy nie meer nie, maar ‘n man en van liggaam groot en sterk maar in
sy gees nog ‘n swak baba.
‘n Moeder
en haar kind – hy is binne haar mens gemaak. Daar is hy gevormeer na die beeld
van God en nie sommer maar nog ‘n baba nie, nee, hy is uniek en daar is net een
van sy soort. Hy het sy eie uniek vingerafdrukke.
Dan kom
die lewe – die lewe wat gegee is om te lewe en gelewe te word. Maar die lewe
ontwyk hom, dit loop draaie en grondpad met hom en die lewe, lewe hom na siel
en liggaan en steeds bly die begeerte om aanvaar te word. Die lewe aanvaar hom
nie, maar die bose lewe aanvaar hom – en daar is nog ‘n kind – ‘n kind wat ook
‘n vreugde moes wees maar nie meer is nie.
‘n Kind –
ja, ‘n kind van ‘n moeder en iewers vra sy elke dag en kerm sy elke dag in haar
gebede waar die kind is, hy is nog kind, haar kind, ’n deel van haar wese is
verdwaal. Iewers lag die mense nou vir hom – die verdwaalde grootmens kind.
Ver op ‘n
bankie sit hy – hy en sy gedagtes en wonder met ‘n skaamte wat net sy wese ken.
Sy gedagtes dwaal – wie is ek regtig ? Hoekom het dit gebeur? As ek dalk nog net een kans kon kry. Hy sit alleen, siels
alleen,verlate, Godsverlate, mens verlate
en tog – hy bly mens.
‘n Mens
wat gestruikel het. Is hy skuldig ? Hy dink ja net hy is skuldig. Hy glo dit
want almal sê dan so – “skuldig” – maar hy het gestruikel oor mensgemaakte
strike. Sy Skepper het dit nie so bedoel nie en hy ook nie, maar dit het
gebeur. Hy wou anders lewe, hy wil
anders lewe,– hy kon anders lewe, maar nou kan hy nie meer nie. Die dae en jare begin
nou sy tol eis.
En steeds
sit hy. Hy het dit nie so bedoel met sy lewe nie. Hy het nie met opset so geword
nie, hy weet dit, erken dit en net hy weet dit, die mense wat skaam vir hom lag
weet dit nie. Die wat ‘n draai om hom loop weet dit nog minder. Niemand behalwe
hyself weet dit, net hy, en dis sy enigste geheim in die lewe. Hy leef met die geheim, en hierdie geheim
vreet hom stukkie vir stukkie op, elke dag word hy uitgeknaag. Die geheim vreet
saggies in sy binneste en so saggies dat niemand dit hoor nie, maar almal sien
dit. En dit is; ek wou nie so word nie, ek is jammer, ek het dit amper gemaak maar
nou kan ek
nie meer. Daar onder lê hy, nog steeds alleen. As my mense darem net hierdie
een ding kon weet - ek is jammer, regtig so jammer. Maar daar bo sal ons weer
sien, ek en jy Ma – en daar sal jy vergeet dat ek daardie seun van jou was
waarvan die mense jou vertel het. Die seun wat hulle op ‘n dag gesien sit het
toe hulle op pad was om ‘n deel aan hulle voortbestaan uit te leef.
Maar Ma
weet dit - iewers langs my pad het ek my Skepper ontmoet en Hy sal sorg dat ek
en Ma mekaar wees sien en dan sal dit sonder verwyte wees. Dan hoef ek nie meer
te verduidelik nie en ma hoef nie skaam te wees nie. Dan sal ek ook uitvind wie
regtig my pa was.
Oom Sidney
– die wêreld is armer sonder jou. Waar jy nou ookal is, ek weet Sy hand bewaar
jou.
Opgedra
aan Sidney Wilken, ‘n boemelaar (45+) wat ek vanaf 1972 leer ken het. ‘n
Besondere mens, ‘n begaafte mens. ‘n Mens, mens. Hy het ‘n briefie vir my gelos
en gesê hy gaan Kaapstad toe. Hy is seker al oorlede, maar met al sy probleme
glo ek hy is in die Hemel en sing saam met die engele ‘n loflied. Ek glo ook hy bid vir ons almal wat oor sy
pad gekom het.
Steeds hou
God my staande
Franceen
Edwards
Ek kan eenvoudig net getuig
van die Here se goedheid en seëninge in my lewe. U weet daar het baie dae gekom
dat ek die Here vra waarom Hy al die dinge met my laat gebeur, maar dan kry ek
weer antwoorde of openbarings van Hom. Die afgelope jaar was verskriklik
moeilik. Verlede jaar moes ek hoor dat my moeder borskanker in 'n gevorderde
stadium het.
Ek moes
toekyk hoe die sterk en gesonde vrou agteruit gaan en worstel deur die
masektomie, chemoterapie en bestralings. En tog was sy die een wat nooit gekla
het nie. Ek het baie dae vir die Here gevra om tog nie die merkwaardige vrou te
kom haal nie. Sy is die anker in ons familie; die een wat net 'n telefoonoproep
weg was; die een wat ons kon bemoedig en net die Here se plan in al ons
moeilikhede gesien het. Wat sou van my en ons familie raak indien sy iets moes
oorkom. Moedig het sy die
naarheid,
die moegheid en ook haar vrae gedra, want ek glo dat sy ook maar haar
bekommernisse gehad het. In desember verlede jaar se die dokters aan haar dat
dit lyk asof die kanker onder beheer is. Groot was my verligting, want die Here
het tog my gebede verhoor.
Nog was my
beproewinge nie verby nie. My verloofde se arm het begin swel en was kliphard.
Eers het die dokters gedink dis 'n spinnekopbyt, maar steeds wou die swelsel
nie sak. Hulle stuur hom toe vir x-strale, maar kon daar ook niks wys raak nie.
Nog vele toetse het gevolg, met die spesialis se uitspraak dat dit ook moontlik
kanker kan
wees en dat hy 'n biopsie moes doen. Al wat deur my gedagtes gegaan het, hoekom
dan weer. Die biopsie is gedoen en toe die wag vir die uitslae. Ek het nie
geweet of ek kom of gaan nie. Die 05 Januarie 2006 het ons die uitslae gekry
dat dit darem nie kanker is nie, maar dat dit 'n infeksie is wat aan die been
begin vreet het maar dat dit behandelbaar is. Groot was my verligting en dankbaar
teenoor God.
Dieselfde
middag ontvang ek 'n oproep dat ek dadelik na Port-Elizabeth moes gaan want my
ma het 'n terugslag gehad.Daar gekom moes ons die verpletterende nuus hoor dat
die kanker verspreihet en dat sy nog net 'n paar maande oor het. Ek was
heeltemal ten gronde. Waarom dan? Alles het dan so goed gegaan... Kersfees en
Nuwe Jaar nog so gelukkig gewees. Die dokter het aan ons genoem dat sy haar huis
toe stuur om tussen haar familie te wees. Ek was regtig ten gronde. Wat gaan
van ons raak. Sy was in soveel pyn dat ek dit nie ook kon verduur nie. My ma
wat nog nooit enige pyn of siektes gehad behalwe 'n verkoue. Ons is na
Graaff-Reinet waar ek haar versorg het- elke 6 ure morfien toegedien om die pyn
te verdoof. Vinnig het sy agteruit gegaan.
In
dieselfde week raak my 3jarige dogtertjie siek. Die dokters diagnoseer gastro,
maar die maagpyne raak net erger. Die Sondag is dit so erg dat ek met haar
hospitaal toe is. Sy word opgeneem en binneaarse voeding gegee. Die sondagaand
raak dit net erger en die magie is verskriklik opgesit. Die Maandagoggend noem
die dokter aan my dat hulle haar oorgaan plaas na Port-Elizabeth. Ek vra dat
hulle my na George oorplaas want haar pa (my verloofde) is in George. In George
word sy opgeneem en die nodige toetse word gedoen. Nog kon hulle nie uitvind
wat fout is nie. Die Woensdag besluit die Chirurg om te opereer- gebarste blindederm
ontdek hulle. Die chirurg is eintlik verleë, want hoe kon hulle dit misgekyk
het. Sy is baie swak, maar tog 'n moedige vegter. Sy herstel vinnig en word die
volgende Maandag ontslaan. My ma neul verskriklik oor haar en ek neem haar na
Graaff-Reinet die Dinsdag. Hoe bly was my ma nie om te sien dat my dogtertjie
ok is nie. Die Woensdag verswak my ma en word in die plaaslike hospitaal
opgeneem - dinge lyk nie goed nie. Die Donderdagoggend 8uur sterf sy. Ek was
verpletter, want hoe kon God dit toelaat. Sy het nog tot die einde geglo dat
die Here haar gesond gaan maak en dat sy Chante nog skool toe sou sien gaan.
My hele
wêreld het tot 'n einde gekom daardie oggend. Wat sou ek sonder my vriendin en
ma doen. Na wie sou ek gaan met my probleme en by wie sou ek raad vra. Maar die
Here het net weereens aan my bewys dat ons op Hom moet vertrou en dat ons ons
probleme na Hom moet bring.Hy het my deurgedra en my die krag gegee dat ek nog
'n huldeblyk op haar begrafnis kon lewer. Ek verwerk haar dood nog moeilik en
daar is nog baie vrae. Soms is ek in opstand teenoor God omdat Hy dit toegelaat
het. Hy is dan 'n God wat die ontmoontlike kan doen, hoekom het Hy nie my ma gesond gemaak
nie. Sy het dan al haar vertroue in Hom gestel.
Die
Maandag nadie begrafnis ontvang ek 'n oproep van my direkteur om my te se dat
my pos van die dienstaat verwyder is en dat ek moontlik verplaas sou word.
My wêreld
was regtig besig om te verkrummel en ek was behoorlik in opstand teen God. Ek
moes dan nou my familie onderhou - hoe kan
ek dan nou my werk verloor. Hoekom moet al hierdie dinge met my gebeur. Maar steeds
het God my staande gehou. Hy het my die krag gegee om elke dag nog ander mense
te bemoedig en my die Groter Plan in alles kon sien. Ek berus my in Sy plan met
my lewe en weet dat hier iets goed moet kom. Ek weet ook dat God hard met my
praat en daar drastiese veranderinge in my lewe moet kom. Ek moet nader aan Hom
beweeg.
Ek het nog
baie vrae en wonder soms nog wat die einde van alles sal wees maar ek glo dat
die Here alles goed in plek sal laat val. Ek het nog nie finaliteit oor my werk
gekry nie, maar ek vertrou op iets positiefs.
Ek aanbid
mos 'n lewendige God, wat nooit sluimer of slap nie en beaam saam met Dawid (1
Kron 29:10-13): Here, God van ons vader Israel, ons prys u vir ewig en
altyd. Want aan U, Here behoort die grootheid en die mag en die eer en die
koninklike majesteit want alles in die hemel en op aarde behoort aan U.
Here U is die koning wat mag het oor alles. Dit is U wat mense rykdom en eer kan gee, want U heers
oor alles. Die mag en die vermoë om dinge te doen is in U hande en U kan enige mens beroemd
maak en krag gee. Daarom prys ons U, ons God, en ons eer U wonderlike Naam.
Ek wys
steeds dat ek omgee
Anoniem
Ek wil jou
net waarsku dat ek nie eintlike ‘n goeie storie skrywer is nie. Indien jy van my insidente gebruik gaan maak
sal ek dit verkies om anoniem te bly.
Ek was ook
een van die wat in ‘n droomwêreld geleef het deur te glo aan die “happy ever
after” storie wat jy in storieboeke van lees en in flieks teëkom. Na ‘n gelukkige en sorgvrye huwelik van 17
jaar het hy in 1992 ander weivelde opgesoek.
Ek het gehoor dat die vrou die laaste een is wat altyd daarvan
uitvind. Wel, dit was met my die
geval. Ek het eers in 1994 daarvan
uitgevind. Dit het hom presies twee weke
geneem om te besluit of hy moes ry of bly.
Dit was vir my ‘n vreeslike tyd gewees.
Ek kan
nie aan jou beskryf hoe ontsettend moeilik dit vir my gewees het om nie voor my
kinders te huil nie. Ek het van al die
spanning stres aanvalle gekry en flou geword daarvan, en nog ‘n klomp ander
skete wat deur spanning veroorsaak word.
Gelukkig vir my en die kinders het hy gebly.
Dit het
vir ‘n ruk goed gegaan, altans dis die boodskap wat ek gekry het. Min wetende dat daar al die tyd kontak tussen
hulle was, al het sy in die Kaap gebly.
Daar was tye wat die “werk” hom gestuur het vir ‘n paar naweke, wat
heeltemal onwaar was. (ek was weereens
naief gewees om alles te glo). Na ‘n
huwelik van 24 jaar in 1999 het die finale breuk gekom. Ek het al hierdie dinge die hele tyd vir
myself gehou en het eers ‘n maand voordat ek die skeisaak aangegee het vir die
eerste maal dit aan my twee kinders en my pa bekend gemaak. Ek hoef seker nie eers te sê wat hulle
reaksie was nie. My seun was op daardie
stadium 20 en my dogter 18. Dit was vir
my ‘n bitter moeilike besluit gewees om uit te stap sonder my kinders. Ek het maar terwille van my kinders vir nog
‘n rukkie aangebly nadat ons geskei is.
My dogter
het vroeg op Hoërskool deurmekaar geraak met dwelms. Ek het in die begin myself geblameer
daarvoor, en het myself afgevra waar ek gefaal het as ouer. Maar nadat ons ‘n paadjie gestap het met die
Maatskaplike werker het ek tot die besef gekom dat haar situasie a.g.v.
verkeerde keuses en groepsdruk veroorsaak is.
Dit het begin by dagga en daarna erger.
Ek was bewus van die dagga, maar nie van die ander dwelms nie. Sy het my nog meer skuldig laat voel omdat sy
gesê het dat die oomblik wat ek uit die huis uitgetrek het sy nie meer omgegee
het wat van haar word nie. Ons was altyd
‘n baie hegte gesin gewees, het baie dinge saam gedoen, en ek het altyd uit my
pad gegaan om vir my kinders baie liefde, drukkies te gee en vas te hou. Daar was ‘n oorvloed van liefde maar nie van
sakgeld gewees nie.
Sy was al
by vier rehabilitasie sentrums gewees, en het ‘n geskiedenis van arrestasies,
hofsake en gevangenisse. Haar pa het nie
regtig belang gestel in haar in die tye wat sy opgesluit was nie. Ek is die enigste een wat maar altyd daar vir
haar was, maar teen ‘n “prys”. Daar was
vernedering, die gejaag hospitaal toe omdat sy “ge-ode” het, hartseer,
depressie, (ek het partykeer gevoel om met my kar in ‘n muur in te jaag),
medikasie vir depressie, afsprake by ‘n sielkundige, spanning, Fibromialgie en
my gesondheid, asook mense wat veroordeel en beoordeel en nie regtig besef dat
dwelmsverslaafdes net soos drankverslaafdes ook maar net mense is nie. Hulle het almal baie liefde en ondersteuning
nodig. Daar was die groot motorongeluk
met gesigbeserings toe sy feitlik al haar bo-tande verloor het. (Gelukkig het sy in ‘n paal vasgery en nie
iemand se lewe op haar gewete gehad nie).
Al die dokters besoeke en die duurste medikasie, ‘n pilletjie wat sy
onder haar tong moes sit, wat ek elke keer betaal het omdat sy werkloos is,
maar met die hoop dat sy sal regkom. As
gevolg van haar dwelm geskiedenis het haar hartspiere skade gekry en is sy nou
‘n epilepsie lyer.
Dan was
daar ook die tyd wat sy by ‘n Nigeriër ingetrek het. Sy het vir hom op die strate gewerk inruil
vir dwelms. Ek het haar op ‘n stadium as
vermis aangegee omdat ek geen kontak met haar gehad het nie. (hy het haar bedags toegesluit). Sy het die 16de Febr weggeloop na my toe, en
is die 21ste Febr met ‘n hofbevel vir drie maande na ‘n Staats rehabilitasie
sentrum toe gestuur. Dit gaan nou baie
goed met haar. Ek is op die oomblik baie
rustig, want ek weet dat sy op ‘n veilige plek is. Ek weet net nie wat gaan word as sy die dag
klaar is met haar behandeling nie.
Ten spyte
van alles wat gebeur het bly sy vir my nog steeds kosbaar, en ek maak ‘n punt
daarvan om haar te wys dat ek nog steeds omgee.
Daar is ‘n
moontlikheid dat sy vir dié naweek vir drie dae mag huistoe kom. Ek bid net dat alles goed sal afloop. Ek weet dat dit vir altyd ‘n stryd vorentoe
gaan wees. Ongelukkig was heroine haar
keuse, maar ek weet ook dat niks onmoontlik is as ons aan Jesus bly vashou nie.
Moenie kom vir die begrafnis nie
Corrie Taylor. Rock Hill. South Carolina.
Ek is gebore.
Kleintyd geweet ma en pa gee nie liefde nie. Dit so aanvaar. Na matriek gaan
verpleeg. getrou met ‘n man, nie geweet hy is baie gevaarlik nie. Hy was
uitstekend met lieg, steel en rondslaap ens. Aantreklike man.
Twee kinders -
dogter en ‘n seun. Ek het hulle elke dag teen my vasgedruk. Ek het Jesus geken
vanaf my jongmensdae. Geglo wat die Bybel sê, kerk toe gegaan en gebid en
geglo. Mag nie skei nie, die kinders moet ‘n normale gesinslewe hê. My man kom
tot bekering. Ek het dit geglo, toe gaan studeer hy vir ‘n predikant in Pretoria. Ek het hard
gewerk. Meestal gewerk met kanker pasiente, terminale sorg en
sterwensbegeleiding. Ek het gehelp om huweliksbegeleidingskursusse aan te bied.
Almal het gedink alles was wonderlik, niemand het geweet van die
anderkant van sy lewe wat telkens toegesmeer is
nie.
Eendag het ek na
sy kantoor gegaan om iets met hom te deel, ‘n sonde in my lewe wat my pla, en
vir ‘n sekonde het ek opgekyk en sy oë gesien, dit was boos. Evil. Ek het
gebewe in my binnekant en was bang, ek was toe altyd bang gewees. Die
kinders was besig om klaar te maak met studies. Hulle het hulle eie lewens
gehad.
Ek het min
geslaap. Een oggend 3uur was ek besig met my Here. Soos baie kere tevore. Ek
het 1 Kor. saam met Hom gedoen. Hy het fisies aan my geraak daardie nag en ek
het die hemel gesien en ervaar. Ek loof
Hom.
Toe kry my man
hartklep probleme, duur operasies ens. ek ondersteun en versorg hom, hy herstel
en gaan voort soos voorheen. Ek gaan werk in Saoedi Arabia om my
dogter se universiteitsgelde te betaal - net vir 6 maande sê hy. My
dogter word verkrag deur ‘n sogenaamde vriend en my seun word gehijack met die
kar. Ons almal
oorleef.
Ek wil nie
teruggaan Saoedi Arabia toe nie.Ek staan op my knieë voor my man en smeek hom
na kerk die dag. Hy sê nee, hy het die geld nodig. Ek gaan terug na
die Arabiese woestyn, maar iewers breek iets in my. Ek begin uitgaan met mans
van ander wêrelde en dans tot 4 uur in die oggend in nagklubs en
drink. Ek vra hom vir ‘n egskeiding, hy is woedend, en sê nee, net
as hy doodgaan sal so iets gebeur. Ek gee nie meer om nie, ek neem
die moslem geloof aan, begin saam met ‘n ander man te bly en stuur nie meer
geld na Suid-Afrika toe nie.
Almal
in
Suid-Afrika is geskok “wat is fout met haar?” Hulle bid vir
my en my sondes
. Ek ontvang snaakse briewe aan die anderkant van die
wêreld. Toe kry my man ‘n
hartaanval op 45 jaar
en hy gaan dood. Ek was bly. Hy word begrawe op die
familieplaas en my seun sê vir my: “Mamma ek is lief vir
jou, maar moet
liewerste nie kom vir die begrafnis
nie.”
Ek bly nou al 2
jaar in Amerika, Getrou met die man wat my ingeneem het in die woestyn . Hy is
‘n professionele persoon, Christen, hippie , wedergebore, snaakse idees, weet
nie hoe om te lieg en te steel nie, gehard, ken die lewe, vra nie vrae nie. As
ek môre-oggend wil weggaan kan
ek gaan. Jesus het my nooit verlaat nie, ek wens ek het spasie om te vertel van
my ervaring in die Arabiese land, met my Here en die moslem geloof. God is baie
groter as wat ons ooit sal verstaan. Ek en Hy praat weer, maar dit is nou
anders, ek weet dat ek kon haat en erge sondes doen, en dat Hy na baie
worsteling my vergeef het.
Die lewe vir my
sal nooit weer diep vreugde wees nie, dit is soos die hobbit Ferodo in die
fliek "The Lord of the Rings ". As jy eens boosheid, gesien en ervaar
het dan weet jy dat dit bestaan en dat jy slegs vreugde en rus sal hê as jy met
die skip na die ander wereld gevaar het. Groete in Jesus.
Om ‘n baba te red
Ernie Roworth
EK weet nie of dit sal deurgaan as 'n storie nie, maar wil dit nogtans met jou
deel.
Ek is getroud met
twee pragtige kindertjies. My jongste is nou amper 7 maande oud. Hy
ontwikkel by die dag en dit is wonderlik om te sien hoe so ou kleintjie elke
dag net meer en meer ontwikkel.
Ek werk by 'n
koerant op Stellenbosch en my kantoor se venster kyk direk op die straat
uit. Ons kry gereeld die snaakste karakters wat hier inval of net verby
loop. Mettertyd raak mens so gewoond aan al die snaakse mense met hulle
drank gewoontes wat mens elke dag sien, jong kinders wat loop en gom snuif,
ouers wat dronk op die gras lê, blanke mans wat straatvrouens helder oor dag
reg voor ons kantoor aflaai, dronk mense wat op ons stoep en nie eens weet waar hulle
is nie en dan gesels hulle ure lank met hulself en vloek die buitelandse
toeriste so onder hulle rokke in dat mens se ore skoon tuit. Gelukkig weet
hulle nie wat al die woorde beteken nie.
Noem maar op,
almal van ons sien elke dag al die dinge en dit raak net al hoe meer
aan die orde van die dag en mens kyk al hoe meer oor die probleme waarmee die
samelewing wroeg.
Verlede week en
Dinsdag maak hier twee mense hul opwagting op ons stoep, hier is twee lekker
geboude bankies wat deel vorm van die historiese huis waarin ons kantore is,
wat baie aanloklik is vir mense wat bietjie voggies in het en 'n sitplekkie
nodig het anders as op die gras. Die twee, is seker so in hulle
dertig, maar kan dalk
jonger wees, maar die alkohol myle lê diep op hulle gesigte.
In die vrou se arms is 'n kombersie met 'n baba in, maar sy
sukkel om stil sit op die bankie en moet elke nou en dan haar
bene sprei om net weer gou die balans terug te kry en nie grond te koop
nie. Soos dit nou maar is bekyk ons die spul so en betoon bietjie
jammerte vir die baba en keer dan maar weer terug na die werk en elke ou
bemoei hom weer met sy eie klein wêreld. Die klompie het toe seker
maar weer deur die loop van dag aanbeweeg na waar hulle bly, of tot daar
waar hulle hulself benind as die son onder gaan.
Donderdag middag
so net na middagete maak die span toe weer hulle opwagting met nog 'n lid
by, seker maar iemand wat hulle langs die pad raakgedrink het en sy
het seker maar besluit om by hulle aan te sluit en so tussen haar
swaaie en draaie was sy baie besorgd oor die bondeltjie wat in die ma se
arm is. Kort kort word die kombers oor die baba se kop getrek en
dan slinger die span heen en weer oor die straat en die motors en taxis
moet net briek aan slaan. Almal in die kantoor se senuwees is op en
wonder wanneer die kind op die grond te lande gaan kom. Op 'n stadium kry
hulle weer hul sit op die bankie en die kombersie glip van die baba af.
Toe ek die ou kleintjie se gesiggie sien en agter kom dat die baba
nog nie drie maande oud kan
wees nie het my hart in stukke geskeur! Op daai oomblik het ek in my
geestesoog my eie baba seun in sy "perfekte"
omstandighede gesien, hoe gesond en gelukkig hy is.
Toe die harde
werklikheid van die ou kleintjie wat geen kans op die lewe het in sy huidige
omstandighede nie. Hy skreeu en dan druk die ma hom net weer aan haar bors
waar hy alkohol gevulde melk inkry. Almal in ons kantoor het iets op die
hart en kan
nie verstaan dat die vrou nog die kind het nie. Hoekom neem die welsyn nie die
kind af nie? Ek dink toe maar hoe moet die welsyn dan nou weet van die
arme kleintjie, dit is nie asof hulle heeldag die strate patroleer en kyk wie
se kinders hulle kan
wegneem nie.
Ek besluit toe om
die plaaslike kindersorg vereniging te skakel en te hoor hoe mens te werk moet
gaan om so iets aan te meld. My tyd is beperk, want span kan enige oomblik die
pad vat en dan weet geen mens waar om hulle weer te vind nie. Die
kindersorg verwys my toe na die ACVV omdat dit in hulle area val. Ek tree
toe met hulle in verbinding en hulle deel my toe mee dat ek eers die polisie
moet ontbied en dan moet hulle die ouers en die baba na die plaaslike
polisiestasie neem en dan sal hulle weer die ACVV kontak en dan kan hulle eers
die proses begin om die beste situasie vir die kind te bepaal. Dit klink
toe na so lang proses en ek wil eintlik net die ou kindjie help om uit die
situasie te kom. Ek bel toe die polisie en hulle plaas die klagte op die
sisteem en sal iemand stuur sodra die ander klagtes afgehandel is. In die
volgende uur voordat ek 'n vangwa voorgekeer in die pad het daar seker vier
vangwaens verby gery, en net so vinnige kyk gegee en weer verder gery.
Op die einde van
die dag het hulle toe die ouers en die baba hier weg. Ek het dit Maandag met
die ACVV opgevolg en hulle met my meegedeel dat die baba in die plaaslike
hospitaal is en kan
daar met die maatskaplike werker kontak maak.
Ek het vandag 'n
week later haar gekontak en sy sê toe dat dit vir hulle wenslik sal wees om die
baba in die sorg van die ouers te plaas, maar hulle is totaal nie bevoeg nie en
het groot drankprobleme.
Dit was vir my net
fantasties om uit my eie wêreldtjie te kon klim en daai ou babatjie te
help om net in beter omstandighede groot te word. Alhoewel hy dalk verstandelik
gestrem kan wees het hy nou dalk net 'n beter kans op die lewe as om
ook dalk 'n gomsnuiwer of straatkind uit te draai. Mens is altyd so bang om te
betrokke te raak, maar die Here lei 'n mens en op daardie oomblik het Hy dit
net op my hart gelê om die ou kleintjie te help sover ek kan.
Die ou seuntjie is
maar twee maande oud, maar ten minste is hy nou van die straat af.
‘n Dapper
Enkelmoeder
Sarie du Toit
Ek
was 4 en 'n half maande swanger, toe gaan my skeisaak deur. Dit was
meer as 17 jaar gelede. My wêreld en sekuriteit was onder my
uitgeruk toe my eks
boonop aandring dat die huis, waarin ek en my babaseuntjie op daardie
stadium gebly het, verkoop moes word, want hy kon dit nie meer bekostig
om die huis en sy woonstel te onderhou nie.
My
eks is intussen weer getroud en het 2 kinders. Die bloedjies kry wat
hul hartjies begeer : byderwetse selfone, opgradeerde PC,
TV-speletjies, rekenaarspeletjies, duur speelgoed, ens. Vir 13 jaar het
ek my seun self onderhou - klere, kos, skoolgelde, skoolboeke, alles
wat hy moes he. Ek het eers aangedring op onderhoud toe my seun
Hoërskool toe moes gaan. Hoekom? Want ek was elke keer "afgejak"
dat hy dit nie kan
bekostig nie. Ek het later nie eens meer gevra nie. Maar 'n seun van
13+ se behoeftes is baie meer as 'n Laerskoolkind s'n en die skoolgelde
amper dubbel.
Ek
en my seun van 9 maande het by my ouers ingetrek. Mens se ouers -
wonderlike mense, nie waar nie? Ons het vir meer as 14 jaar daar gebly.
Ongelukkig werk 3 geslagte in een huis nie so goed uit wanneer die
kleinkind sy tienerjare bereik nie. Daar is 'n te groot verskil van hoe
ek my kind wil opvoed teenoor hoe my ouers my opgevoed het en dan spat
die vonke mettertyd.
Nee, ek het nie 'n tienerrebel vir 'n kind nie. Ek wil my kind
selfstandig en
verantwoordelik grootmaak en my Ma dink ek is te streng juis omdat ek
besluite
aan hom wil oorlaat. Sy voel hy is nog te jonk om self te besluit.
Glaskaste om
'n kind en verekussings om te keer hy hard val, werk ongelukkig nie ten
goede
uit nie. Wanneer jou kind met die harde werklikheid van die lewe
kennismaak, moet hy/sy reeds daaropvoorbereid wees.
Ons
het so ampertjies 3 jaar terug 'n nessie van ons eie gaan soek en kon
gelukkig bekostigbare losies kry. Dis nie groot nie, dis basies 'n
kamer aan mense se huis met 'n uitbouiing daarnaas waarin 'n stort,
toilet en kombuisie ingerig is. My seun se driekwartbed staan in die
kombuisgedeelte. Die slaapkamer dien as my slaapkamer en my seun se
ontspanplek wanneer hy opsy rekenaar (nie 'n spoggerige, nuutste PC nie) werk of TV kyk.
Daar
is ongelukkig 'n moontlikheid dat selfs hierdie sekuriteitsnessie
eersdaags afgestaan moet word, want as die huurgeld Junie-maand
opgeskuif gaan word, sal ek my sente vier keer moet omdraai in plaas
van twee of drie keer. Die rede daarvoor? Ek werk al 22 jaar by die
Finansiele instelling en moes tot my skok ontdek dat my netto salaris
ongeveer gelykstaande is aan 'n tydelike personeellid wat maar 'n jaar
lank hier werk en al wat sy doen, is liassering. Ek moet elke Saterdag
werk; anders kom ek nie met my geld uit nie en glo my, die rekenings en
betalings wat ek MOET doen, is noodsaaklikhede bv losies, kos,
skoolgeld, assuransie, Apteek (my seun het asma), vervoer. Vir 'n vrou
om nie 'n klererekening te hê nie, dink ek, isomtrent 'n prestasie.
Ewenwel,
wanneer alles klaar betaal is, dan het ek so gemiddeld R20 - R30 per
dag vir die res van die maand tot volgende betaaldag. Hiervan moet dan
die daaglikse noodsaaklikhede gekoop word en af en toe ook 'n
toevoeging totvleis en groente wat intussen opgeraak het.
Maar,
Goddank, nie ek of my seun het al een aand honger gaan slaap nie. Rande
rek ver as dit gerek moet word. Solank my seun se maag vol is en
diebrood is geduldig met my, sal ons nie honger gaan slaap nie.
Dis
soms moeilik om te sien en te aanvaar dat daar mense is wat luukshede
en duur "speelgoed" (soos jetski's, quadbikes, ens) kan koop sonder om
twee keer te dink en ek het nie eens aldag die finansiële
vermoë om belangrikedinge (soos nuwe matrasse) te koop nie.
Tot
dusver het God nog elke dag voorsien en alhoewel ek baie dae op
moedverloor se vlakte staan en nie meer weet watter kant toe nie, soms
selfs tienerrebels raak, dan kom daar tog uitkoms. En wanneer ek die
dag moedeloos, teneergedruk en hartseer is, kom daar soms 'n SMS of
e-pos uit die bloute en dis dan net asof daardie persoon weet ek het
daardie trooswoorde juis op daardie moment nodig. Wanneer ek dan die
persoon bedank vir die mooi woorde of selfs 'n mooi prentjie en versie
by, dan sêdie persoon dat hy/sy net 'n gevoel gekry het hy/sy wil dit vir my stuur.
SOMEWHERE SOMEONE IS WATCHING OVER ME AND MY SON. Ek dank God daarvoor.
Ongeag wat ookal
Rashieda Riddles
Ek is in die
Moslemgeloof gebore. Toe ek in die huwelik tree, het ek die Christengeloof
aangeneem. Nodeloos om te sê, my familie was nie in hul skik met my nie en
ek was eintlik as die "outcast" beskou. Uit die huwelik is twee
pragtige dogters gebore.
In 1991 is
ek gediagnoseer met Sistemiese Lupus Erythamotosis en rumatoid artiritis.
My hele lewe het toe verander en ek was - van 'n baie aktiewe onafhanklike
persoon - feitlik gedwing om van ander
afhanklik te wees om sekere take vir my te verrig. Ek kon op daardie stadium
nie meer 'n voldag werk verrig nie en my geneesheer het aanbeveel dat ek liewer
nie meer werk nie. Ek is in 1993 ongeskik vir werk verklaar waartydens ek ook
my eerste bloedoortapping gekry het.
Met my opname in
die hospitaal in 1991 was ek in die Intensiewe Saal opgeneem en die dag nadat
ek opgeneem is, het 'n vrou in die saal gesterf. Ek kon die aand nie slaap nie
en het met die Here geworstel. Op daardie stadium het ek vir die Here gesê dat
ek nog nie gereed is om hom te dien nie. Nadat ek toe nie meer werk nie,
het my gesondheidstoestand heelwat verbeter totdat ek met TB gediagnoseer word.
Ek was verpletterd en het die feit dat ek 'n SLE leier is beter hanteer as die
TB diagnose. Waarom, weet ek nou nog nie. Ek het 'n goeie 9 jaar by die huis
deurgebring en kon aktief betrokke wees by my kinders se skool aktiwiteite, hul
huiswerk, vakansietye saam deurgebring, eerste dag op primêre skool,
eerste dag op hoërskool en so meer.
Toe het die lewe
'n nadraai gehad. Die groenmonster sowel as ontrouheid het ingesypel. Tesame
met hierdie aksies was daar mishandeling van alle vorms teenwoordig. Ek was
uitgemaak as iemand wat niks beteken, onnosel, vet, is net in die pad, het 'n
lewe van geen waardes nie, aangesien ek in die tussentyd nader aan die Here
beweeg het.
To me it was the
most trying time in life, as all Chritians I approached regarding the state in
my life, advised me to stick it out and stay smiling. Eventually
I discussed the issue with my Reverend who asked me one simple question -
What is left for this man to do to you other than murder you? Hierdie
eenvoudige vraag het my laat sit en wonder en nog steeds het ek hoop gehad dat
dinge sal verbeter, wat toe nie gebeur nie. Ek het die stadium in my lewe
bereik dat ek self gevoel het dat die wêreld en almal om my beter daaraan
toe sal wees sonder my op hierdie aarde en het 'n oordosis pille geneem.
Ek is inderhaas
hospitaal toe geneem deur 'n vriendin. In die hospitaal is ek verwys na 'n
Sielkundige. Hy het my by kliniek toegelaat vir behandeling en dit was
die tyd toe die Here in my lewe met oorgawe oorneem. Ek het toe vir die Here
gesê dat ek nie meer kan
aangaan nie, dat ek alles menslik moontlik probeer het en steeds nie suksesvol
is nie. en dat ek my kruis by Sy voete kom neersit. Wonderbaarlik het alles toe
in plek geval die oomblik toe ek my saak vir die Here gee.
Op 02 Januarie 2001 sterf my skoonma in
my arms terwyl haar seun met die ander vrou in ons kind se bed lê. Op 15
Januarie 2001 is die egskeiding afgehandel. Die aanpassing was groot om na 17
jaar weer enkel te wees, maar die Here het my deurgedra deur die wonderlike
mense wat hy op my pad gebring het. Sommige van my vriende was egte
steunpilare. My familie het weer nader gekom. Ander vriende moes ek tot my
ontsteltenis ontdek is glad nie goeie vriende nie, maar met die Here se genade
het ek dit oorkom.
Ek het op 21
November 2001 weer tot die arbeidsmark toegetree. Ek werk as 'n Menslike
Hulpbronne Assistent in 'n baie groot onderneming en ek geniet dit terdeë. Ek
beteken weer iets. Ek mis my Woensdae-oggende se
Moederdienste, maar ek put net soveel genot uit my werk. Dit voel so goed wanneer
mense dankie sê vir dit wat jy vir hulle gedoen het. Die dankbaarheid in die oë
is waarvoor ek leef. Die ander dag vra my jonger dogter vir my of ek nie
dankbaar is dat ek sulke gehoorsame kinders soos hulle het nie. My antwoord aan
haar was: “Ja ek is, maar ek verwag ook niks minder nie aangesien ek lead by
example.”
Ek geleer om elke
oggend wanneer ek wakker skrik vir myself te sê: "This is the day that the
Lord has made, I shall be glad and rejoice in it" - ongeag wat ookal.
Swanger op skool
Charlene Cunningham
Ek het onlangs op Radio Kansel gehoor van jong ongehuude moeders wat voel dis
die einde van hulle wêreld en swanger meisies wat dink aborsie is die enigste
uitweg. Daarom het ek gedink om net hierdie kort stukkie aan te stuur met
die hoop dat dit iemand anders weer hoop en perspektief sal gee.
Ek het op 17 jarige ouderdom (einde van Gr 11 op daardie stadium) swanger
geraak en dit vir so lank as moontlik stil probeer hou. My kindjie se pa
het van die swangerskap geweet. Ons was toe alreeds vir 3 jaar
saam. Ek kon myself nie sover kry om dit aan my ouers te vertel nie, want
ek was so bang vir die teleurstelling. Ons het groot drome vir my toekoms
gehad, en ek kon net nie vir hulle vertel nie.
Op 7 maande (nog steeds in die skool) besef ek dat ek nie langer stil bly nie.
My klere pas nie meer so gemaklik nie en ek kon nie meer aan aktiwiteite
deelneem soos voorheen nie. Ek het dit eerste met my skoolhoof bespreek en hy was wonderlik. Hy het
voorgestel dat ek dit dadelik aan my ouers vertel. Dan kan ek besluit of ek my skoolloopbaan gaan
voltooi of vir eers opsy skuif. Ek het dit toe aan my ouers vertel en
nodeloos om te sê, my ouers was platgeslaan. Dit het hulle so 'n dag of
wat geneem om alles te deurdink. Daarna het hulle gevra wat ek wil doen
en het besluit - na die geboorte van my seuntjie - sal ek terug skool toe gaan
om my skoolloopbaan te voltooi.
Almal by die skool (onderwysers en leerlinge), my ouers, my 3 broers, was
wonderlik en ondersteunend. Vriende het roteer om my te kom besoek en te
help met my studies, sodat ek nie agter raak nie. Ek was vir so 4 maande
uit die skool en het toe weer teruggegaan. Ek het my skoolloopbaan
voltooi met goeie uitslae.
My seuntjie is vandag 9 en ek en die pappa het daarteen besluit om te trou
aangesien dinge skeef in ons verhouding geloop het. Hy sien hom so
gereeld soos hy wil en ek het 'n wonderlike man in my lewe wat ons albei
aanvaar net soos ons is!
Ek prys ons Hemelse Vader dat Hy my deur hierdie "donker" tye gedra
het, want vandag is ek 'n sterker mens!
Dis nie die einde van die wêreld nie, dis net 'n seën en 'n voorreg om 'n
kindjie groot te maak om Liewe Jesus te dien!
Varke bly Varke
Louis Nel
Ek het die afgelope
Desember vakansie ‘n bietjie gaan “ontspan!?” in my Boshuisie in die Laeveld,
in Marloth Park. Daar het ek die waarheid weereens
besef: 'n Vark bly 'n vark, of hy nou 'n vlak vark of 'n diep vark is, en of hy
nou 'n skatlike ou varkie is of 'n liederlike dierasie van 'n vark - 'n vark
bly 'n vark!
Is hier toe nou mos 'n verskriklike gewerskaf in die Boshuisie - na sewe
jaar is daar allerhande dinge wat begin verslyt raak en verstop raak en sommer
net gedaan raak, en so ontaard ons "vakansie" in 'n gedoodwerkery.
Daar moet 'n stoof in die kombuis kom, en om hom in te pas moet 'n stuk van die
kombuiskas "afgesny" word. Daar moet 'n hangkas in die bokamer kom,
en om hom daar te kry beteken dit dat die trapreëling eers afgeskroef moet word
om die kas om die draaie te kan
kry. Die skroewe wil nie uit nie, en moet afgesaag word. Ek en Mosbolletjie
wroeg en worstel met die sware kas treetjie-vir-treetjie die trappe op - hygend
en blasend.
Met al die gewerskaf kom ons agter hoe vuil die kaste binne geword het deur
die jare - én die mure én die houtwerk, en nou moet daar geverf en geskuur en
gevernis word. Boonop verstop die dreins ook op 'n kritieke tyd, en daar moet
pype verlê word. Al hierdie dinge in mid-somer in die Laeveld, en nodeloos om
te sê: dis warm - vrékwarm! My voete is seer, én my rug én my hande, en ek is moeg.
Een van my laaste take is om 'n wasbak afleipyp te skuif. Met pik en graaf kap ek 'n sloot in die harde,
klipperige aarde terwyl die sweet my afstroom. In die bloedige son maak ek 'n
mengsel beton aan om oor die pyp te gooi.
Intussen koer die vroumense oor die allerfraaiste, skattigste ou klein
vlakvarkies - drie bondeltjies energie wat al om hulle ma draai, en seker nie
meer as 'n paar weke oud nie. Hulle roep my om te kom kyk, en ek sleep my moeë
liggaam om die huis om hierdie wonderwerkie te kom aanskou. My kop is seer van
die bloedige son, en my humeur is nie meer so waffers nie, maar ek kom kyk
darem. En ja, hulle is nogal mooi!
Maar my werk wag, en ek sleep myself weer terug na waar ek die klippe en
sement en sand meng. Noukeurig word die betonblad gevorm tot 'n meesterstuk.
Die sweet tap my af. Om die hoek hoor ek hoe
die skattige ou varkies tekere gaan. Kort-kort hoor ek die vroumense skaterlag
oor die goedjies se manewales. My kunswerk nader nou sy finale vorm, en
uiteindelik kan
ek terugstaan en die vrug van my arbeid bewonder. Ek vee die sweet van my
voorkop af, was my gereedskap en karwei alles na die stoorkamer toe.
Stinkgesweet, en vuil (soos 'n vark!) stap ek na die buitestort toe vir 'n
welverdiende lafenis. En tref die groot skok my: vervul met afgryse moet ek
aanskou hoedat die vlakvarksog en haar drie ou skattige kleintjies baljaar in
mý betonblad wat ek pas met soveel moeite (én liefde én deernis) gegooi het. My
(liefdevolle) handewerk is een groot gemors. Almal ken my as 'n liefdevolle,
vredeliewende wese, maar op daardie oomblik kan ek net eenvoudig nie my humeur beteuel
nie, en ek noem die varke 'n dosyn of wat name wat 'n matroos sou laat bloos!
Sy wou nog terugkom om vir oulaas in hierdie lekker "modder" te kom
rol, maar ek laat haar (en haar ou skattige kindertjies) in geen onduidelike
taal verstaan presies wat ek van haar dink, en presies hóé welkom sy nou
eintlik is. En vir 'n encore slinger ek toe maar 'n paar klippe in haar rigting
- net om te sê dat ek nie rêrag kwaad is nie!
Die noodsaaklike stortbad moes maar vir eers uitgestel word tot die nodige
herstelwerk aan die beton gedoen is.
Nou wil ek dit baie kategories stel: 'n Vark bly 'n vark, of hy nou 'n vlak
vark of 'n diep vark is, en of hy nou 'n skatlike ou varkie is of 'n liederlike
dierasie van 'n vark - 'n vark bly 'n vark!
Die spreekwoord sê: “Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou op!”
As jy saamloop met ongelowiges, dan kan
jy moeilikheid verwag. ‘n Ongelowige het nie dieselfde waardes as ‘n gelowige
nie, en wêreldse plesier en sonde is vir hom deel van die lewe. As jy as
gelowige hierdie paadjie met hom saamloop, dan is jy vinnig op pad weg van God
af, en dit is die laaste ding wat jy wil hê. Dit is daarom dat Paulus die
gedeelte in 2 Korintiërs 6 geskryf het, om jou aan te spoor om nader en
nader aan God te leef. Dit beteken dat jy in die eerste plek wegbly van die
sonde af, en in die tweede plek wegbly van sondige situasies af waar jy verlei kan word tot sonde.
Byvoorbeeld: As jy in ‘n kroeg gaan sit saam met die manne, dan skep jy vir
jouself ‘n situasie: jy kan
deur hulle beïnvloed word om jouself te vergryp aan die drank. Vuil en
lasterlike taal is terselfdertyd ook in ‘n kroeg aan die orde van die dag, en
hierdeur vereenselwig jy jou daarmee.
Dit beteken egter
nie dat jy jou totaal uit die wêreld moet onttrek nie. Inteendeel: jy moet juis
IN die wêreld wees, want alleen deur saam met ongelowiges te werk en met hulle
te kommunikeer, kan
jy die boodskap van verlossing aan die wêreld uitdra. Jesus het immers Sélf in
Matt. 28 die opdrag gegee: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my
dissipels.”
Om rein te bly
Elna Schutte
Ek wil graag 'n
stukkie van my lewe met julle deel.
Ek het my man ontmoet toe ons in St 9 was en van die eerste oomblik was ek
verlief op hom, maar het ook met die tyd geweet dit is die man vir my.
Ons het uitgegaan, maar hy was net verlief op my en nooit regtig lief vir my
nie. Hy het egter 'n baie sprankelende persoonlikheid en kan baie maklik met
mense gesels.
Ons het verskeie
kere uitgemaak en weer uitgegaan, maar was ook altyd eerlik met mekaar en die
Hemelse Vader glo ek het my ook voorberei vir die tyd vorentoe, want my man het
na matriek ander verhoudings met ander vrouens gehad en ook by sommiges
geslaap, maar ek het net geweet ek wil absoluut rein bly vir my man waarmee ek
eendag sal trou.
Ek en my man het
na omtrent 'n jaar weer begin uitgaan en ons moes op die ou end trou. 'n
Baba seuntjie is gebore en ek het altyd die verwyt in my hart rondgedra, hoekom
kon ons nie wag totdat ons getroud is nie, maar na baie jare kon ek myself
vergewe en na 21 jaar van getroude lewe saam met 'n wonderlike man kon my man
vir die eerste keer vir my vertel dat hy nie genoeg die Hemelse Vader kan dank
vir die rein vrou wat die Vader hom gegee het nie, want daar was geeneen voor
hom waarmee ek intiem verkeer het of eers gesoen het nie en dit het my ook
daardie versekering gegee dat ek vir hom baie spesiaal is.
Vandag kan ek net
vir jong meisies verseker dat die besluit om rein te wees die dag as jy trou
die beste besluit ooit kan wees vir jou huwelik, want dit laat albei partye
baie spesiaal voel en ook voel dat God se seën werklik oor julle huwelik is.
Uit die hartseer nuwe lewe
Charmaine
Heydenrych
My storie begin
Junie 2003.
My dogter verjaar
28 Junie. So om en by 2 weke voor haar verjaarsdag rand my man (nou gewese man)
my 17-jarige seun aan. Die aanranding is so erg dat ons hom hospitaal toe neem.
Ongeveer ‘n week
na haar verjaarsdag sak my seun inmekaar. Ons jaag hom weer hospitaal toe waar
hy gediagnoseer is met leukemia (ALL). Volgens die dokter het hy op daardie
stadium 1 week oor om te leef. Sy behandeling is onmiddellik begin en teen
middel Oktober 2003 gaan sy kanker in remissie. Begin November 2003 verdrink my
kleinseun en omtrent 2 weke daarna is my seun se kanker in felheid terug. Teen
Mei 2004 na klomp toetse wat onder andere wys dat sy suster 6 uit 6 “match” is
vir beenmurg (2de een in 11 jaar wêreld wyd) begin die trek van die beenmurg.
Voor hulle my dogter
se beenmurg trek, toets hulle haar 2 maal vir swangerskap, en albei kere wys
dit negatief. My seun is ten spyte van beenmurg einde van Mei 2004 oorlede. 2
maande daarna vind ons uit dat my dogter reeds 2 maande swanger was ten tyde
van die beenmurg onttrekking.
September 2005 is
my egskeiding uiteindelik deur, en ek kan
slegs die Here loof en prys vir die krag wat ek nog steeds elke dag ontvang. In
die 9 maande wat my seun die kanker gehad het, het hy tot bekering gekom en
daarvoor is ek dankbaar.
Oorwinning oor moeilike tye
André van
Papendorp
Graag wil ek
hierdie gedeelte van my lewe met ander deel as dit tot enige voordeel of hulp vir iemand kanwees.
My ma is opslag dood in ‘n motorongeluk en ek was toe net in
standerd 2. Dit was vir my ‘n groot skok en dis waar my hele
lewenswroeging en kennismaking met "dood" begin het. Soos enige kind
was ek baie lief vir my ma en haar afsterwe het ‘n groot leemte
in my lewe gelos. Ek was die jongste van vier seuns gewees en was nog
nie 10 jaar oud nie. Asof dit toe nie genoeg was nie is my pa ook
oorlede toe ek 16 jaar oud was. Toe was ek basies heeltemal alleen want
my drie broers het al almal gewerk of was in die weermag. Op daardie
stadium het ons in die Vrystaat gebly seker so vir vier maande toe my
pa oorlede is. Ek moes die jaar daar klaarmaak en het toe teruggekom
kaap toe. My lewe was heeltemal ontwrig gewees. Heel verdwaas want daar
was geen familie in dieVrystaat wat my kon help of bystaan nie.
Met
die aanhoudende verlange na my ouers het dit gevreet aan my binneste.
Met onderwysers en mense wat nie verstaan waardeur jy gaan as jy n
weeskind
is nie, het dit moeite gekos om staande te bly. Ek wou nie een van die
statitieke van probleem kinders wees nie. Ek wou nie my omstandighede
gebruik
om
voordeel te trek uit enige situasie nie. Ek het gou besef dat ek sal my
lewe moet rig op iets konkreet en dan onthou ek altyd hoe my pa se pa
hom behandel het nadat hy skool voltooi het. Dit was n kwessie van
vasbyt, uithou en aanhou. Ek was afhanklik van my pa se boedel vir
skoolfonds en klere wat daardie jare maar baie min was. Ek was
skoolvakansies afhanklik van familie gewees vir kuier of blyplek. Van
my ma se familie het plase besit, so ek het meeste van die tyd daar
spandeer want daar kon ek myself uitleef deur myself deel te gemaak het
van die werksmense. Het dit baie geniet om hard te werk. Ek het gevind
deur om betrokke te wees met goeters wat jou interesseer of wat jou
aandag aftrek, jy tog ‘n normale lewe kan
lei. Hoewel ek meeste van die tyd my lewe in isolasie gelewe het, het
ek soos enige kind ook vriende gehad maar ons het nooit oor my probleem
gesels nie. Ek wou nooit "jammer gekry" gewees het nie.
Toe
ek eers in die Kaap terug is, het dit beter gegaan want ek was toe
nader aan die res van die familie. Daar was knaend kinders of boelies
wat die situasie uitgebuit het, omdat ek nie ouers gehad het nie. Na
wie toe draai jy,
vir wie vra jy om hulp? Hoe oorkom jy al hierdie tergende vrae?
Hoe beveg jy hierdie eensaamheid in jou? Hoe onderdruk of oorkom jy die
intense verlange na jou ouers? Hoe mis jy nie daai warm druk of liefdes
gebare van jou ma nie! Ek was nog bloedjonk toe my moeder weggeneem is.
Ek kan nie veel van haar onthou nie.
Baie
van die vrae hierbo het ek onderdruk en het stelselmatig in ‘n
baie onredelike, bombastiese kind ontaard. Ek moes my altyd onderdruk
om nie in n bakleiery te betrokke te raak nie. Ek dink die feit dat die
kortstondige opvoeding wat ek gekry het deels bygedra het dat ek nie
heeltemal in’n skollie of probleemkind uitgedraai het nie. Dit het my “gemold” op ‘n manier
vir die loop op my lewenspad.
Neem jou eie
besluite, hou daarby en as jy ‘n verkeerde besluit geneem het deel daarmee,
moenie toelaat dat dit jou terughou nie. Enigiemand maak foute en moenie te
hard op jouself wees nie. Vereenselwig jou met die posisie waarin jy jouself
bevind. Jy kanonmoontlik
dieselfde vermag of verwag van iemand wat beter af is as jy. Ek
praat nou van iemand wat n gesonde familie lewe het met altwee sy
ouers. As dit jou verjaarsdag of Kersfees is en daar's nie ‘n
present nie, deel daarmee,
kom oordit.
Tot onlangs toe
nog het ek geen waarde geheg aan hierdie "veronderstelde wonderlike dae" nie maar
ek is ook nou ‘n ouer met pragtige seuns en het begin besef dat my ou lewe is
verby. Daar's nuwe lewe, nuwe dinge om te ervaar. Ek het my seuns om te
waardeer en ek het die kans
om vir hulle die mooi dinge van die lewe te leer. Om
vir hulle te help om die kanse te kry wat ek miskien nie gehad nie. Om hulle te ryp en vas te hou en vir hulle te sê: “Pa is lief vir julle.”
Die laaste ene om
my ‘n drukkie te gee, was my oorlede ma. My pa was iemand wat geglo het,
"cowboys don’t cry". Deesdae is dit vir my lekker as man om te huil,
just to let go. Net toe te laat dat die liggaam sy gang gaan en net skoonmaak. Om te huil totdat al die pyn en ellendes uit en weg is.
Dan staan ‘n mens weer met ‘n skoon en sterker gemoed op, reg om die lewe
vierkantig in die oë te kyk.
Daar
is nie meer maskers om te dra nie. Geen voorgee nie. Geen opgekropte
gevoelens nie. Gee emosionele seer of pyn nie, want in standerd 9 het
die Here my bevry, en in 1989 het ek volkome tot bekering gekom. Al die
jare het die Here my voorberei vir hierdie lang eensame pad en een doel
daarvoor s, "God het ‘n plan met jou". Ons is partykeer so
hard op onsself
dat ons vergeet om net vir ‘n wyle stil te staan om te hoor wat
God vir ons wil sê. Vandag is al my hartseer en pyn en al daai
jakkalsies van die verlede in die vuur van vergetelheid. God het my
volkome bevry. Ja, as kind was ek swak toegerus, nie ondervinding gehad
nie en het ek foute gemaak. Net ek alleen was verantwoordelik vir my
besluite. Maar ek was ook verantwoordelik vir "waar" wil ek wees,
"waar" wil ek opeindig. Gaan jy
lê of gaan jy opstaanen die probleem areas in jou lewe "face"?
Dankie
Here dat U vir my die krag gegee het om oor hierdie donga's in my lewe
te kon kom. U genade was vir my genoeg en ek vandag sê: “
Jesus leef,
U't my deurgedra soos wat U dit nog elke dag doen. Amen!”
Copyright © 2005 All
rights
reserved.
Dr ST Potgieter
email: st@pitkos.co.za
|
|