LEES DIE NUUTSTE ARTIKEL DEUR DR. ST POTGIETER ONDERAAN HIERDIE BLADSY

Hierdie is die webblad vir JOU!!

Verryk jouself met kennis en vaardighede. Kry hier pitkos vir jou lewe, siel en hart.

Is jy moeg en tam, lusteloos?

Sukkel jy om deur een dag tot ‘n volgende te kom? Strompel jy voort sonder om werklik jou drome en doelwitte te bereik? Voel jy soos ‘n mislukking?

Mense sien hoe geleenthede soos treine verbystoom en jy bly alleen op die stasie staan. Dis net die leë spore, want die trein van geleentheid is weg. Jy wil huil van frustrasie, want jy voel magteloos om iets te doen om jou volle potensiaal en menswees uit te leef. Die jare stap aan en jy wil so graag nog veel bereik, maar dis of vrees en finansies, mislukkings uit die verlede en onkunde jou blokkeer.

Dalk is jy hoogs suksesvol – miljoene in die bank. Maar jy is ongelukkig en ontevrede met jou lewe.

Voel jy die weke en maande loop onkeerbaar soos water deur jou vingers? Dit raak naderhand jare – en dis soos verlore jare – en jy wonder by jouselwers: “Wat de flip het van my lewe geword?”

Moenie verder huiwer of bangwees nie, op ons webblad ontdek jy ‘n kompas en rigtingwysers uit doodloopstrate van die lewe.

NOU het dit tyd geword om weer jou lewe op te neem!! Jy sê vir jouself, tot hiertoe en nie verder met die ploeterasie van my bestaan nie. Ek sal opstaan vir myself. Ek het net hierdie één lewe, en niemand gaan my langer hiervan beroof nie. Ek staan op vir myself, en neem die reg tot my eie lewe op.

My naam is ST en dis vir my ‘n voorreg om vir jou hartlik welkom op my webwerf te sê. Ek is ‘n praktiserende sielkundige wat gereeld in koerante en tydskrifte skryf, bydraes vir die gedrukte media lewer en op radio praat.

Kuier gerus op ons webwerf rond. Kliek op die verskillende skakels vir afdelings en artikels waarin jy belangstel. En besoek die pitkos webwerf weer en nog ‘n keer. Ons vul dit gedurig aan met nuwe artikels en inligting. Skryf aan my – lesersbriewe verskyn ook op die webwerf.

Dan BELANGRIK – op hierdie blad is daar ‘n plekkie waar jy kan inskryf vir jou gratis weeklikse nuusbrief. Dis puur verniet en jy ontvang ‘n motivering en inligtings nuusbrief elke week in jou e-posbussie. Weeklikse pitkos vir jou siel en hart. Jou eposadres word streng vertroulik hanteer en aan niemand anders gegee nie. Sluit aan by honderde mense wat elke week my pitkos nuusbrief ontvang!!

Groete van hart tot hart

ST POTGIETER

Hierdie week se artikel

Positief vir die nuwe jaar

Nog ‘n nuwe jaar het aangebreek. Maar kan ons werklik positief wees oor die jaar wat voor ons uitstrek? Daar is soveel negatiewe en slegte dinge in hierdie wêreld waarin ons lewe.

Neem maar net die gevolge van die resessie op baie mense se lewens.  Meer as 8 miljoen mense in Suid-Afrika is in ‘n skuldlas vasgevang waaruit hulle nie kan kom nie. Die meeste ekonome voorspel die resessie se impak sal in 2012 voortduur. Daar is steeds dinge soos korrupsie en misdaad en werkloosheid wat mense moedeloos en selfs bang maak.  En dalk het jy ook gehoor dat die einde van wêreld hierdie jaar (volgens die Maja-kalender) op 21 of 23 Desember aanbreek.

Kan ‘n mens dus werklik nog positief wees oor hierdie nuwe jaar? Die antwoord is dat jy dit absoluut kan doen. Net die feit dat jy leef, gee klaar hoop. ‘n Nuwe jaar is soos ‘n nuwe begin met nuwe geleenthede. Die belangrike ding is egter dat ons ‘n keuse het.  Elke mens is geskape met ‘n vrye keuse. Ons kan kies hoe ons die jaar wil aanpak: met ‘n negatiewe of met ‘n positiewe gesindheid.

Dit is maklik om te sê dat jy positief moet wees, maar hoe doen ‘n mens dit? Daar is baie maniere hoe jy dit kan doen. Hier aan die begin van die jaar wil ek net vier praktiese riglyne vir jou gee hoe om positief in 2012 te wees:

·          Leef elke oomblik met volle dankbaarheid. Henri Matisse het gesê: Daar is altyd blomme vir diengene wat dit graag wil sien.” Al sal dit party dae moeilik gaan, moet jy steeds die mooi en goeie dinge in jou lewe raaksien en waardeer.

·          Leef met humor. Lag elke dag. Lag maak gesond. Leer om humor in situasies in te sien. Humor stimuleer die brein en gee energie.

·          Leef gesond. Oefen en eet reg en handhaaf gesonde gewoontes.

·          Leer om te gee. Verander van “ek wil hê” na “ek wil gee”.

‘n Mens moet egter ook realisties wees. Daar sal in hierdie jaar ook negatiewe dinge en teleurstellings oor ons pad kom.  Hoe moet jy hierdie negatiewe dinge en teleurstellings hanteer wanneer jy daarmee gekonfronteer word?

Dis belangrik om te onthou dat die lewe aan ‘n mens met ‘n hand met kaarte uitdeel. Dit help nie om daaroor te kla nie en te mor waarom dit of dat met jou moes gebeur het nie. Jy moet speel met die kaarte in jou hand. Aanvaar die kaarte en doen die beste met dit wat aan jou uitgedeel is.  Wees realisties en weet slegte dinge kan gebeur. Jy is nie onaantasbaar teen die aanslae van die lewe nie. Jy is kwesbaar en sal in hierdie lewe teleurstellings ervaar, soos enige ander mens. Hier is vier praktiese dinge wat jy kan doen om teleurstellings in 2012 te hanteer:

 ·          Gee jouself tyd en ruimte om deur jou teleurstelling te werk.

·          Gesels met mense om perspektief op die saak te kry.

·          Jy kan in skuldgevoelens en in selfverwyt verval. Klim vinnig daaruit. Sit dit agter jou. Onthou egter altyd die les wat jy geleer het.

·          Onthou wanneer een deur wat toegaan, kan ‘n tweede kan oopgaan wat veel beter geleenthede aan jou bied. Moenie te lank in sak en as sit nie, want dan kan ‘n nuwe geleentheid by jou verbygaan.

Beste wense en sterkte vir hierdie nuwe jaar.


Copyright © 2005 All rights reserved. Dr ST Potgieter
email: st@pitkos.co.za