| ST se Spreuke | ||
Oor
die jare het Dr ST Potgieter in tientalle rubrieke, artikels en
nuusbriewe ‘n
verskeidenheid van gesegdes en gedagtes neergeskryf. Die volgende
sê-dinge en
spreuke uit sy briewe en artikels.
Besoek hierdie bladsy gerus weer, want hierdie is maar net ‘n proeseltjie van spreuke uit die pen van Dr Potgieter. Van tyd tot tyd dateer ons die blad op en voeg nuwe spreuke by. Gebruik ST se spreuke gerus soos jy goed dink, maar gee asseblief erkenning aan die skrywer wanneer jy so doen: |
||
| Aggressie Bejaardes Beroepe Blaaskans Dissipline in die gesin Doelwitte Eensaamheid Egskeiding Eiewaan Fokus Huwelik Intelligensie Jammer sê |
Kinders en opvoeding Liefde Liggaam Luister Mans Mislukking Nuwejaar voornemens Ontwaking Positiewe mense Rampe en krisis Reg op my lewe Reik uit |
Respek Saam met mekaar Selfbeeld Selfmoord Selfvertroue Slegte tye Stres Sukses Teleurstelling Vergifnis Vertrap word Voorkoms |
|
Aggressie ‘n Aggressiewe mens wat
voortdurend bombasties is, takel emosioneel die ander se selfbeeld en
eiewaarde af. Wanneer jy bang raak vir die uitbarstings van die
humeurige mens, steel dit jou menswees. Jy kan later nie meer jouself
wees nie. Bejaardes Bejaardes voel soms dat hulle nie meer veel vir die samelewing beteken nie. Dis glad nie waar nie. Die geskiedenis is vol bewyse van ouer mense wat groot bydraes op verskeie terreine gelewer het. ***** ‘n Bejaarde behoort nie verstok aan idees vas te kleef nie, maar sy kennis en ervaring gebruik om probleme van ons moderne tyd te help oplos. ***** Die gesindheid waarmee ‘n bejaarde leef, is wat betekenis aan sy lewe gee. ***** Die bejaarde moenie te veel inmeng in sy kinders se lewe nie. Wees daar wanneer hulle jou nodig het en vir raad kom vra. ***** Vertroetel jou kleinkinders want
herinneringe aan ‘n oupa en ouma se liefde is ‘n
kosbare kleinood wat jy op hul lewenspad saamgee. Beroepe Sommige mense leef die beste jare van hulle lewe met die een begeerte: om af te tree. Dis wat ek ‘n tragedie noem. ***** Indien jy regtig gelukkig en entoesiasties oor jou beroep en lewe wil wees, is dit nodig om jou passie te vind. Jy benodig daardie een ding wat jou aanvuur en geesdrif gee. ***** Wanneer jy jou ware passie in die lewe vind, en daarin glo met jou hele hart, gaan verbasend genoeg nuwe geleenthede vir jou oop. ***** Soek ek my passie in die lewe? Vra dan watter tye het ek gevoel ek leef die lewe in sy volle volheid? ***** Beroepsverandering in jou middeljare verg ‘n weldeurdagte besluit en noukeurige beplanning, want anders kan dit in ‘n finansiële nagmerrie ontaard. ***** Beroepsnavorsing is ‘n ernstige
saak. Dit is ook nie net ‘n eenmalige gebeurtenis wat aan die
einde van jou skoolloopbaan plaasvind nie. Dit is ‘n
voortgesette evalueringsproses regdeur jou volwasse loopbaan. Blaaskans Baie van ons skete, kwale en ongesteldhede is juis omdat ons nie genoeg rus en vrede het nie. Neem gerus ‘n blaaskansie wanneer jy dit nodig het. ***** Dit is soms nodig om stil te raak en weer mens te word. ***** Ons jaag en werk vir geld, maar uiteindelik mis ons soveel van die dinge waaroor die lewe regtig gaan. Dissipline in die gesin Een van die hoekstene van dissipline is ‘n ouer wat ferm maar vriendelik optree. ***** ‘n Kind leer uit die dissipline van sy ouerhuis om selfbeheersing toe te pas, gesag te aanvaar en respek vir ander mense te hê. ***** Kinders moet van dag een die grense weet; daar nie ruimte vir onaanvaarbare gedrag is nie. ***** Wag jy tot jou kind tiener is voor jy dissipline probeer toepas, is dit te laat. ***** Wanneer ‘n ouer sy dissipline en gesag oor ‘n kind verloor het, is dit bykans onmoontlik om dit weer terug te kry. ***** Baie gedrags- en emosionele problem by kinders kan toegeskryf word aan ‘n gebrek aan dissipline in die ouerhuis. ***** As ouer moet jy grense stel, ferm daarby staan en konsekwent in optrede wees. ***** Wees duidelik wat jy van jou kind verwag en moenie vaag daaromtrent wees nie. ***** Dissipline wat handuit ruk, maak die
situasie in die huis onhoudbaar. Doelwitte Sonder doelwitte is jy op roete na nêrens. ***** Doelwitte is jou kaart na sukses. ***** Doelwitte gee aan jou rigting en motivering om jou drome na te volg en sukses te bereik. ***** Doelwitte gee vir jou sin en ‘n doel vir jou bestaan. ***** Daar is krag in die aksie om oor jou doel na te dink en waarom jy sekere dinge doen. ***** ‘n Belangrike vraag wat jy jouself
moet afvra, is hoekom jy ‘n sekere doelwit kies. ‘n
Doelwit vervaag gou wanneer jy nie ‘n sterk motivering het
waarom jy dit in die eerste plek gekies het nie. Eensaamheid Eensaamheid is ‘n baie kragtige emosie. Dit kan lei tot siekte, verslawing, depressie en selfmoord. ***** Dit is inderdaad tragies in ons moderne wêreld met sy hoë tegnologiese kommunikasie, winkels oorspoel met boeke oor interpersoonlike verhoudinge en motiveringsprekers galore dat ons nou meer eensame mense as ooit te vore het. ***** Eensaamheid is ‘n feit van die lewe. ***** Eensaamheid word nie met groot vertoon aan die wêreld voorgehou nie, maar woed dikwels tussen die vier mure van ‘n kamer. ***** Eensaamheid kan positiewe waarde
hê. Deur die pyn van eensaamheid leer ek myself beter ken en
ontdek ek die diepte van my eie-ek en menswees. Eensaamheid kan die
kreatiewe inspirasie wees vir selfontdekking en persoonlike groei. Egskeiding Kinders het albei ouers nodig. Al is ouers ook geskei. ***** Met ‘n egskeiding skeur die kind se wêreld van veiligheid en stabiliteit. Dit word vererger wanneer ouers mekaar probeer om mekaar te vermaak om nog ‘n rondte te wen. ***** Emosionele skade by ‘n kind word aangerig wanneer een ouer sy verpligting ontduik deur nie onderhoud te betaal nie. So ‘n kind is in die steek gelaat en voel hy is nie werd om kind genoem te word nie. ***** Kinders wat voel pa laat hul in die steek, se menswees en selfbeeld kry hierdeur ‘n knou. ***** Egskeiding is ‘n hoogs emosionele en traumatiese saak – dit bring geweldige hartseer en impak op elkeen wat betrokke is. ***** Die beker van troosteloosheid van ‘n stukkende liefde en ‘n verhouding wat in skerwe lê, bring pyn en leed en eensaamheid. Drink dan hierdie beker, want in jou wintertyd sal jy krag vir môre vind en in die donker uur van die nag hoop en geloof. In jou swakheid sal jy genade ontvang om vir jouself en jou kinders op te staan. ***** Egskeiding bring onsekerheid en vrees vir die toekoms mee. Maar dit kan ook die begin wees van ‘n nuwe pad, nuwe geleenthede en ‘n reis tot selfontdekking en groei. ***** Daar is nie woorde om die intensiteit en
diepte van ‘n kind se emosies te beskryf wat ‘n
egskeiding beleef nie. Hoe sal ons werklik emosies soos vrees,
hartseer, woede, verwerping en magteloosheid waarmee ‘n kind
worstel in volle diepte kan verstaan en omskryf? Eiewaan Dis wanneer mense in die waan van hul eie
belangrikheid leef dat omgee vir jou naaste verlore gaan. Fokus Die geheim van ‘n suksesvolle mens
is dat hy daarin slaag om sy talente en aanleg te fokus op een
spesifieke beroep of projek. Daar is ‘n ontsaglike dinamiese
krag in gekonsentreerde aandag wanneer jy besig is met ‘n
projek. Huwelik Ek sê nie ‘n ouer moenie genoegsame aandag en tyd aan haar kinders gee nie, maar sorg wel vir balans. ‘n Man en vrou behoort ook ‘n tydjie net vir hulself in te ruim om weer die vonk in die huwelik terug te sit. ***** Huwelike loop op die rotse omdat mense met stywe nekke rondloop en nie bereid is om hul fout te erken en verskoning te vra nie. ***** ‘n Gevaar is wanneer een ouer so
kompulsief al die aandag aan die kinders gee dat die eggenoot afgeskeep
raak. Uit die aard van die saak skep dit spanning in die huwelik en
dryf ‘n wig in tussen man en vrou. Intelligensie Ons moenie “dink” as vanselfsprekend aanvaar nie, maar dit beskou as ‘n vermoë wat jy kan ontwikkel en verbeter. ***** Is hoë intelligensie ‘n
waarborg vir sukses in die lewe? Nee. Jammer sê Soveel gebroke verhoudinge kon voorkom gewees het deurdat een gesê het hy of sy is jammer. ***** Soveel wrewel en vyandskap ontstaan tussen mense net omdat iemand weier om jammer te sê. ***** Huwelike loop op die rotse omdat mense met stywe nekke rondloop en nie bereid is om hul fout te erken en verskoning te vra nie. ***** Dis ‘n teken van grootmoedigheid om te sê ek was verkeerd, vergewe my asseblief. ***** Verhouding tussen ouers en kinders versuur omdat grootmense dikwels dink jy hoef nie vir ‘n kind te sê jy is jammer nie. ***** Jou karakter en integriteit word uitgebou
wanneer jy ‘n ander mens om verskoning vra wanneer jy
verkeerd opgetree het. Dis hoe jy respek van jou medemens verdien en
goeie gesindhede uitbou. Kinders en opvoeding Jy mag nie so besig wees met allerhande ander dinge en nalaat om deel te wees van jou kind se leefwêreld nie. ***** Een ding is daar min raad voor en jou hande afgekap laat voel, en dis wanneer jou kind op ‘n afgrond afstuur en jy kan hom nie keer nie. ***** Jy as is daar om leiding en ondersteuning vir jou kind te gee, nie om sy lewe vir hom te leef nie. ***** Geen mens het ‘n onuitputlike bron van energie nie. Jy as ‘n ouer is maar net mens wat soms ‘n ruskans en ontspanning moet kry. ***** ‘n Kind kan hom in ‘n verkeerde rigting begewe en jy as ouer verstaan dit nie, want dis nie hoe jy hom geleer het nie.Moet egter nie jou kind verwerp nie. Met geduld en liefde hou jy die lang pad dop, sodat jy daar is wanneer jou kind omdraai en terug huistoe wil kom. ***** Hoe leef jy met jou gewete saam wanneer jou weerlose kind moet ly? My pleidooi is dat jy werklik sal nadink en besin oor wat die pad is om te stap. ***** Kinders wil die graagste in die hele wêreld hê dat albei ouers daar sal wees wanneer hul optree en presteer. ***** ‘n Pa durf nie belangrike momente in sy kind se lewe op die ma afskuif nie – hy moet daar wees. ***** Pa’s moet saam met hulle kinders lag. Bring humor en vreugde in jou kinders se lewe. Komaan pa;’s met donderwolk-gesigte – breek ‘n slag uit jou toestand. ***** ‘n Gevaar is wanneer een ouer so kompulsief al die aandag aan die kinders gee dat die eggenoot afgeskeep raak. Uit die aard van die saak skep dit spanning in die huwelik en dryf ‘n wig in tussen man en vrou. ***** Dis tyd dat ons pa’s weer hul regmatige plek inneem. Te veel pa’s het lieplappers in hul eie gesinne geword. Staan op, word weer die hoof in jou gesin en vir jou kinders ‘n voorbeeld van standvastigheid, eerbaarheid en ‘n koersaanduider. ***** Soveel kinders wou al in ‘n krisis hulp vra – maar omdat die pa te hard en rigied was, hul toevlug geneem tot ander mense en middele. ***** Daar is ‘n waar woord daarin wat jy as ‘n vader saai, jy as ‘n ou man sal maai. ***** Jy het vandag nog tyd om reg te maak. ***** Jou kind sal soms verkeerde keuses maak. Om egter jou kind hieroor te verwerp, is ‘n dolk wat jy in sy hart steek. Hy mag jou dalk later nodig kry, maar dan nie meer die vrymoedigheid hê om jou te vra nie. ***** Te streng rigiditeit verhinder kinders om met vrymoedigheid probleme en frustrasies met hul ouers te bespreek. Dit word aggressie na binne gekeer en ontplof as rebelsheid. ***** Verhouding tussen ouers en kinders versuur
omdat grootmense dikwels dink jy hoef nie vir ‘n kind te
sê jy is jammer nie. Liefde Daar is planne en nuttige wenke vir allerlei
probleme. Pille vir siektes. Operasies om kwale uit te sny.
Handleidings vir elke ding onder die son. Maar is daar raad vir
‘n verlore liefde? Liggaam Wanneer jy moeg raak vir jou meubels kan jy ander gaan koop. Jy kan jou kar inruil vir ‘n nuwe. Jy kan na ‘n ander huis trek wanneer jou huidige een jou nie meer aanstaan nie. Maar jou liggaam kan jy nie inruil nie. Jy is met een liggaam uitgereik vir hierdie lewe tot jy die dag doodgaan. Pas dus jou liggaam en gesondheid op. ***** Stel vir jouself ‘n fisieke
oefenprogram in. Leef gesond en doen fisiese oefeninge. Wanneer jy
liggaamlik gesond en goed voel, verhoog dit jou selfvertroue. Luister Mense vra hoe dit met jou gaan, maar het nie
eintlik tyd om regtig te luister nie. Hulle is eerder soos verbygangers
op pad met hulle eie belang. So in hul haastigheid sal hul wel goedkoop
raad uitdeel. Mans Daar is een kernbehoefte wat onder meeste mans voorkom. Dis die behoefte om te weet ek word aanvaar en bewonder deur die vrou vir wie ek lief is. ***** ‘n Man doen baie om die vrou in sy lewe te beïndruk, want hy wil graag haar held wees. En dis die kruks van die saak: ‘n man wil die terugvoering, die erkenning en die wete hê hy as man is goed genoeg en spesiaal vir haar. ***** Wanneer jy wil raak aan een van ‘n man se diepste behoeftes, gee hom jou erkenning en eer vir sy manwees en wys dat hy die enigste ridder in jou lewe is. ‘n Man smag daarna om dit te hoor en te weet. ***** Daar is min dinge wat ‘n man so
‘n mislukking en nikswerd laat voel as wanneer sy identiteit
as man, versorger en minnaar hom ontneem word deur die een vir wie hy
die meeste in die lewe liefhet. Mislukking Moenie bang wees vir mislukking nie. Baie suksesvolle mense het misluk voordat hulle sukses behaal het. Sien mislukking as leerervarings. ***** Vandag gaan ek die rampspoed en foute van al die gisters in my lewe in ‘n bondel bind en ver weggooi. ***** Wanneer jy twyfel op die rand van die
afgrond, onthou ek het al baie keer daar gestaan. En afgeval. Maar elke
keer was daar ‘n rigtingwyser boontoe, ‘n kabelkar
of voetslaanpaadjie berg op. Maar soms het ek besef dit was die
verkeerde berg, en dankbaar ‘n nuwe berg gesien wat ek moes
uitklim. Nuwejaar voornemens Het ek nie hierdie jaar wat verby is net voortgesnel sonder om asem te skep nie? Om hier teen die einde van die jaar te vind ek is rigting kwyt en myself in die jaagtog verloor het? Daarom sal ek ‘n ruspose neem om na te dink wie en hoe ek nou eintlik wil wees. Nie langer gaan ek die nuwe jaar soos ‘n willose blaar deur stowwerige plekke rondgewaai word nie. Ek gaan in hierdie nuwe jaar opstaan vir myself en weet waarnatoe ek op pad is. ***** Die nuwe jaar is vol geleenthede wat sal
dien as ‘n toets vir jou karakter. Mag jy genade en krag
ontvang om met lof hierin te slaag. Ontwaking Mense neig om hul slim te hou oor jou lewe.
Mense wil jou regeer en stuur soos wat dit inpas by hulle idee van die
lewe. Maar dan kom daar ‘n dag wat jy sê tot hier
toe en nie verder nie. Dis die dag wat jy beheer neem en sê
dis my lewe en ek het die reg op keuses. Dis die dag wat ek noem die
ontwaking van my eie-ek. Positiewe mense Moenie tyd mors om jou te kwel oor diegene wat jou tot in jou siel toe irriteer nie, want dis nie die moeite werd nie. Gebruik jou energie op die mense vir wie jy lief is en wat jou ook lief het. Hardloop weg van negatiewe mense wat jou lewe ondraaglik maak en spits al jou energie, tyd en verstand toe op dit wat jy wil bereik en fokus elke dag op die wonderlike dinge rondom jou. Jy moet inderwaarheid so besig wees om “ja” te sê vir die lewe dat daar nie tyd en plek is vir mense om jou met hul knorrigheid en beterweterigheid te intimideer nie. ***** Hardloop weg van negatiewe mense, want hulle is parasiete wat die lewe uit jou tap. ***** Word ‘n optimis. ‘n
Pessimistiese uitkyk op die lewe breek selfvertroue af. Maak vriende
met mense wat ‘n blymoedige en optimistiese uitkyk op die
lewe het. Optimisme is aansteeklik. Rampe en krisis Ramp en krisis bring die ware karakter en
integriteit van ‘n mens na vore Reg op my lewe Op hierdie planeet is ek gebore en hier het ek die geskenk van die lewe ontvang. Niemand gaan my langer hiervan beroof nie. ***** Soos ‘n donker afdreiger volg bitter dinge uit die verlede jou en haal die lag en son uit jou dag. Maar dan kom daar ‘n dag wat jy vir jouself opstaan en sê dis nou genoeg. Ek sal nie langer toelaat dat onreg en onregverdigheid my weerhou om my lewe te voluit te leef nie. ***** Vandag gaan ek die môre groet, die sonskyn en blou lug geniet en net dankie sê dat ek lewe. Sak ‘n trietsige reën egter uit, sal ek dan nie ook daarvoor dankbaar wees dat ek leef om dit te sien en ervaar nie? ***** Gister is verby en hierdie dag is aan my geskenk. Sal ek dan vir hierdie dag swart gal braak? Nee, nie jy of die duiwel en sy gesante sal my beroof van die vreugde om hierdie dag voluit te leef nie. ***** Dwaal jy maar in die verlede, maar ek gryp hierdie dag met al sy volheid en genade. Hierdie dag vul ek met liefde, vreugde, lewe en hoop. ***** Hierdie lewe is immers net wagkamer op ‘n stasie. Die trein gaan vertrek en die eintlike bestemming lê nog voor. ***** Mense neig om hul slim te hou oor jou lewe.
Mense wil jou regeer en stuur soos wat dit inpas by hulle idee van die
lewe. Maar dan kom daar ‘n dag wat jy sê tot hier
toe en nie verder nie. Dis die dag wat jy beheer neem en sê
dis my lewe en ek het die reg op keuses. Dis die dag wat ek noem die
ontwaking van my eie-ek. Reik uit Reik uit na diegene wat jou nodig het. Gee
van jouself vir jou medemens al is jou seer en smart groot. Gee alles
wanneer jy voel dat jy nie meer kan gee nie. Gee sonder om terug te
verwag. In jou swakheid sal jy krag kry om ‘n verskil in
mense se lewens te maak. Dis wanneer jy uit jou karigheid met liefde
gee dat jy veel seën ontvang en verryk word. Respek Seker een van die grootste krisisse wat in ‘n gesin kan ontstaan, is wanneer respek verlore gaan. ***** Verlore respek dompel ‘n gesin in krisis. ***** Die wortel van baie tiener-probleme lê in die verlies van respek tussen ouer en kind. ***** ‘n Kind leer respek deur die voorbeeld wat jy as ouer stel. ***** Daar is krag daarin om wanneer dit nodig is
vir jou kind “nee” te sê. Daardeur leer
jou kind ook respek vir jou as ouer aan. Saam met mekaar Kyk, hier is my hand. Laat ek jou optrek. Staan op en kom staan by my. Dan kan ek en jy die pad saam loop. ***** Laat die gisters aan die verlede behoort. Vir my en jou is daar ‘n vandag wat wag om geleef te word. ***** Sal jy dan nie opstaan, sodat ons die pad saam kan loop nie? ***** ***** Is ‘n span dan nie sterker as
‘n enkeling nie? Wanneer die probleme en gevare aankom, dan
is ek daar vir jou en jy vir my. Bekruip die vyand my van agter, is jy
die oë wat dit sien en die stem wat waarsku. Struikel jy en
val, dan is ek weer daar om jou te bemoedig en op te help. Selfbeeld Hoekom is ‘n gesonde selfbeeld belangrik? Selfbeeld is die bril waarmee ek na myself kyk in die wêreld waarin ek leef. Dit het ‘n invloed op my geestelike, emosionele, intellektuele en fisieke welstand. ***** Daar is ontsaglike dinamiek en potensiaal in ‘n gesonde selfbeeld. ***** My negatiewe selfbeeld belemmer dat ek voluit leef en funksioneer. ***** Die verskil tussen ‘n wenner en ‘n verloorder is dikwels toe te skryf aan net een eienskap, naamlik jou selfbeeld. ***** Hoe het ons as babas in hierdie wêreld gearriveer? Vol vreugde en opgewonde oor wat die lewe alles bied. Kleuters is vol uitbundigheid met ‘n goeie en gesonde selfbeeld. Maar dan begin grootmense jou egter keer, of afmaak dat jy nie dit of dat kan doen nie, of lewer kritiek. Redelik vinnig begin die opgewondenheid en kreatiwiteit taan wat jy as kleuter ervaar het. En so word jou selfbeeld stukkie vir stukkie afgebreek met vertwyfeling wat oor die jare intree. ***** ‘n Belangrike stap in die bou van
‘n gesonde selfbeeld is om jou houding te verander van
“ek wil hê” na “ek wil
gee”. Selfmoord Oorweeg jy selfmoord? Terwyl jy lewe is daar hoop, maar met die dood is jy by omdraai verby. ***** Die gedagte van selfmoord wat my benoud maak, is die finaliteit daarvan. ***** Gedagtes rondom selfmoord raak soms oorweldigend, omdat mense alleen daarmee stry. Dis belangrik dat jy met iemand jou emosies en vrese deel. ***** Ek vra jou om op te staan en die pad saam
met my te loop. Ek weet ek kan jou nie dwing nie. Jy het die reg tot
eie keuse, maar ek is daar wanneer jy my nodig het, wanneer jy gereed
is om ook vir jouself te wil opstaan. Dan sal ek daar wees, my hand
uitsteek en my hart vir jou oopmaak. Selfvertroue Stel vir jouself ‘n fisieke
oefenprogram in. Leef gesond en doen fisiese oefeninge. Wanneer jy
liggaamlik gesond en goed voel, verhoog dit jou selfvertroue. Slegte tye Die lewe is vir my gegee vir die goeie en die slegte. Sal ek dan kla oor die minder goeie dae? ***** Soos ‘n donker afdreiger volg
bitter dinge uit die verlede jou en haal die lag en son uit jou dag.
Maar dan kom daar ‘n dag wat jy vir jouself opstaan en
sê dis nou genoeg. Ek sal nie langer toelaat dat onreg en
onregverdigheid my weerhou om my lewe te voluit te leef nie. Stres Soms lyk dit of die moderne wêreld so ontwerp is om vir ons stres te gee. ***** Stres veroorsaak allerhande kwale en skete soos hartaanvalle, senu-ineenstrotings en maagsere. Leer dus om stres reg te hanteer. ***** Die sleutel tot suksesvolle stres-hantering is om beheer te neem oor die stres in jou lewe. Selfgemaakte reëls en ‘n
rigiede denkpatroon bring net meer stres. Breek ‘n slag uit
jou roetine en probeer iets nuuts en interessant. Sukses Lees die biografieë van suksesvolle
mense. Hierin gaan jy die ongelooflikste stukkies binne-inligting kry
oor mislukking, opstaan en planne maak om uiteindelik te
seëvier Teleurstelling Hoe gemaak met teleurstelling in jou lewe? Jou hart is flenters en jou siel in stukkies geskeur. Huil dan jou hart uit as dit nodig is. Stort in jou binnekamer al jou smart en trane uit, maar staan die volgende oggend op en pak weer die lewe aan. Anders verval jy in selfbejammering wat van jou ‘n depressiewe wrak maak. ***** Gevoelens soos woede, verwerping en jaloesie gaan hand aan hand met teleurstelling. Dit kan jou goeie oordeel aantas, maak dat wraakgedagtes jou oorheers en verhinder dat jy voluit lewe. ***** ‘n Realistiese uitkyk is nodig om ewewig tussen voorspoed en teenspoed te kry. Jy kan nie altyd wen nie, daar is soms tye wat jy ook gaan verloor. Teleurstelling is nie net ‘n lêer in die kabinet van die lewe nie, dis die lewe self. Wees hierop voorbereid en hanteer dit nugter en objektief. ***** Ons kan nie nie die verlede verander nie, maar vandag het ons weer die geleentheid om nuut te begin. Wat ‘n voorreg! ***** Wanneer jy teleurstelling en mislukking
beleef, maak ‘n lysie van foute en wat jy daaruit geleer het.
Môre kan dit jou help om die regte besluite te neem. Vergifnis Mense se emosionele probleme en sielkundige kwale is dikwels te wyte aan hul gebrek om iemand te vergewe. ***** Laat die gisters aan die verlede behoort. Vir my en jou is daar ‘n vandag wat wag om geleef te word. ***** Het iemand jou ‘n onreg aangedoen? Om nie te vergewe nie, is om ‘n gevangene te wees van dit wat daardie mens jou aangedoen het. Jy bly slagoffer van die onreg teen jou. Dit ontneem jou die vreugde om voluit aan te gaan met jou lewe. ***** Indien jy werklik vry wil wees, is dit nodig om dié een te vergewe wat teen jou oortree het. ***** Indien jy nie kan of wil vergewe nie, sal jy
vir die res van jou lewe swaar bagasie saamdra. Dis so eenvoudig soos
dit. Vertrap word Miskien het mense al jou stukkend getrap.
Voel jy daarom neerslagtig en dat jou lewe nie veel beteken nie? Laat
dit egter vir jou ‘n teken wees om jou dieper menswees en
waardes te ontdek. Voorkoms Verbeter jou voorkoms. Doen moeite om goed
te lyk en goed aan te trek. Voorkoms is ‘n wonderlike
bousteen om selfvertroue te verhoog. Ontwikkel respek vir jou voorkoms
en die dinge rondom jou. |
||
|
Copyright © 2005 All
rights
reserved.
Dr ST Potgieter email: st@pitkos.co.za |